Die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, Leo Brent Bozell III, het minister Ronald Lamola se jongste uitsprake oor Washington se Afrikaner-hervestigingsprogram as “teleurstellend” bestempel en gesê dit help volgens hom verklaar waarom Lamola in Washington teen ’n muur vasgeloop het.

Lamola, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, het tydens die African Diaspora Forum in Washington die Amerikaanse program gekritiseer omdat dit volgens hom op ras gegrond is. Hy het dit as “Apartheid 2.0” beskryf.

“Dit is teleurstellend om hom te hoor sê wat hy sê, en dan wonder hy waarom hy in Washington teen ’n muur vasloop. Wel, dit is waarom,” het Bozell gesê.

Bozell het gesê hy is sedert sy aankoms in Suid-Afrika sowat ses maande gelede beïndruk met Suid-Afrikaners, maar heelwat minder met die regering.

Volgens hom was sommige regeringsverteenwoordigers redelik en behulpsaam tydens gesprekke, maar Lamola was volgens hom nie een van hulle nie.

Die ambassadeur het gesê hy het aanvanklik geglo die verhouding tussen Washington en Pretoria is besig om te verbeter. Hy het selfs aan Amerikaanse amptenare gesê om ’n deurbraak te verwag nadat Washington vyf versoeke aan die Suid-Afrikaanse regering gestel het.

“Ek was die een wat vir Washington gesê het: Verwag ’n deurbraak. Dit kom, dit kom. En toe gebeur die teenoorgestelde,” het hy gesê.

Die Suid-Afrikaanse regering verwerp bewerings dat Afrikaners in die land vervolg word. Trump het onder meer uitgewys dat grond gegryp word en dat wit Suid-Afrikaanse Boere op hulle plase doodgemaak word. Die Suid-Afrikaanse regering betwis dié bewerings.