Japan is wêreldbekend vir skoon strate, maar besoekers aan Tokio ontdek dikwels ’n vreemde teenstrydigheid: openbare asblikke is besonder moeilik om te vind.

Die verklaring daarvoor lê in ’n kombinasie van veiligheidsmaatreëls, afvalbestuur en sosiale gewoontes.

Terreuraanval verander Tokio

’n Belangrike keerpunt het in Maart 1995 gekom toe lede van die Aum Shinrikyō-kultus saringas tydens die oggendspitsverkeer op drie Tokio-metrolyne vrygestel het. Veertien mense is dood en duisende is beseer.

In die nadraai van die aanval het owerhede asblikke verseël of verwyder om veiligheidsrisiko’s te beperk.

Volgens Eiko Maruko Siniawer, geskiedenisprofessor aan Williams College en skrywer van Waste: Consuming Postwar Japan, het latere terreuraanvalle elders in die wêreld (soos die 9/11-aanvalle in Amerika) verder daartoe bygedra dat dié veiligheidsmaatreëls behoue gebly het.

Maar veiligheid alleen verklaar nie waarom soveel asblikke drie dekades later steeds ontbreek nie.

Neem jou vullis huis toe

Plaaslike owerhede het sedert die 2000’s in sommige gebiede doelbewus minder straatasblikke beskikbaar gestel.

Aya Yoshida van Japan se National Institute for Environmental Studies sê die doel was onder meer om mense aan te moedig om hul afval saam huis toe te neem.

In Kyoto is die aantal straatasblikke vanaf 2011 met meer as die helfte verminder. Huishoudelike afval is volgens Yoshida in openbare asblikke weggegooi en rommel het rondom die houers opgehoop, wat die koste van instandhouding en afvalbestuur verhoog het.

Japan se skoon strate is volgens haar egter nie bloot die gevolg van ’n besondere nasionale ingesteldheid tot netheid nie. Munisipaliteite het oor dekades geld en moeite bestee aan veldtogte teen rommelstrooiing, openbare opvoeding, straatskoonmaak en die ontwerp van openbare ruimtes om rommel te beperk.

Gewoontes speel ook ’n rol

Sosiale gebruike help ook om te verklaar waarom die strate skoon bly.

Een daarvan is meiwaku o kakenai — die beginsel dat ’n mens ander nie onnodig moet verontrief nie.

Daarby is dit minder algemeen om in Japan te eet terwyl ’n mens stap of op ’n trein reis. Minder kos en drank word onderweg gebruik, wat beteken dat inwoners ook minder afval het wanneer hulle tussen die huis en werk beweeg.

Toeriste se ervaring is dikwels anders. Hulle bring lang dae by besienswaardighede deur, koop drankies en versnaperinge by geriefswinkels en sit dan met leë houers en verpakkings waarvoor daar nie altyd ’n asblik naby is nie.

Die Tokio-gebaseerde toergids Junko Yokoo sê besoekers is aanvanklik dikwels ongelukkig oor die tekort aan asblikke, maar raak later gewoond daaraan om hul afval saam te dra.

Asblikke op wiele

Openbare asblikke het nie heeltemal uit Tokio verdwyn nie. By treinstasies kan dit steeds gevind word, dikwels as deursigtige houers naby kaartjiehekke waar personeel of veiligheidskameras dit kan dophou.

Shinjuku-stasie in Tokio het vandeesmaand ook met rondbewegende asblikrobotte begin proefloop.

Tot sulke tegnologie meer algemeen word, bly die oplossing vir besoekers dieselfde as dié waaraan baie inwoners reeds gewoond is: hou jou afval by jou totdat jy ’n geskikte plek kry om daarvan ontslae te raak.