Die Knysna-munisipale raad het die groter Knysna-gebied tot ’n plaaslike rampgebied verklaar weens ’n ernstige waterkrisis. Die besluit is Vrydag tydens ’n spesiale raadsvergadering geneem, het die burgemeester, Thando Matika, bevestig.
Volgens Matika stel die verklaring die munisipaliteit in staat om noodsaaklike nasionale en provinsiale ingrypings te aktiveer en onvermydelike nooduitgawes te magtig waarvoor geen voorsiening in die goedgekeurde begroting gemaak is nie.
Verskeie aanvullende waterprojekte is tans aan die gang, insluitend die opknapping van bestaande boorgate en die boor van nuwe boorgate, wat na verwagting binne die volgende twee weke waterlewering sal verbeter. Die totale koste van hierdie ingrypings word op sowat R58 miljoen geraam.
Die Akkerkloofdam, Knysna se hoofbron van drinkwater, staan tans op ongeveer 15% kapasiteit – genoeg vir na raming tien dae se water teen die huidige verbruikstempo. Alhoewel sowat 50 mm reën onlangs in die gebied geval het, is dit volgens Matika onvoldoende om die krisis te verlig.
Vlak 4-waterbeperkings sal streng toegepas en gemonitor word, met wetstoepassingsbeamptes wat ontplooi word om oortreders aan te spreek. Die nasionale departement van water en sanitasie het intussen aangedui dat ’n gebrek aan onderhoud ook tot die krisis bygedra het.
Matika het inwoners opnuut versoek om hul waterverbruik onmiddellik en drasties te verminder om Dag Zero en moontlike daaglikse rantsoenering te voorkom.