’n Regeringsoudit het 891 moontlike spookwerkers in nasionale en provinsiale departemente uitgewys.

Die gevalle is geïdentifiseer nadat staatsamptenare fisies geverifieer en hul besonderhede met die regering se PERSAL-personeel- en salarisstelsel vergelyk is.

Minister van Staatsdiens en Administrasie Inkosi Mzamo Buthelezi sê die 891 gevalle word verder ondersoek en dat dit nog nie bevestig is dat almal onregmatig salarisse ontvang het nie.

Moontlike verklarings sluit verouderde personeelrekords, verkeerde identiteitsbesonderhede en werknemers wat reeds verskuif of uit diens is maar wie se rekords nog nie bygewerk is nie, in.

Die regering kan dus nog nie bepaal hoeveel geld moontlik verlore gegaan het nie.

Die gevalle word verder bekragtig en ondersoek, met die Nasionale Tesourie en die departement van binnelandse sake wat by die breër verifikasieproses betrokke is.

Uit 158 departemente het 131 verslae ingedien, wat 867 160 personeelrekords gedek het. Sowat 93,3% van die werknemers is fisies geverifieer.

Die 891 gevalle kom uit dié fisiese verifikasieproses en moet nie verwar word met ’n afsonderlike Tesourie-proses wat duisende hoërisiko-gevalle uitgewys het nie.

Die finale bekragtigde uitslag van hierdie verifikasieproses word teen einde November verwag.