Rooibossaad van Suid-Afrika gaan later vanjaar geskiedenis maak wanneer dit na die Internasionale Ruimtestasie (ISS) gestuur word. Dit is die eerste keer dat ‘n inheemse Suid-Afrikaanse plant deel vorm van ‘n ruimte-navorsingsprojek.
Die Rooibos in Space-inisiatief is Donderdag in Kaapstad bekendgestel en is ‘n samewerking tussen die Suid-Afrikaanse Rooibosraad (SARC), MaxIQ Space en die Suid-Afrikaanse Nasionale Ruimte-agentskap (SANSA). Die projek verbind ruimtewetenskap met landbou en wetenskap-, tegnologie-, ingenieurs- en wiskunde-onderrig (STEM).
Die rooibossaad sal na verwagting in Oktober na die ISS vertrek, waar dit vir ongeveer ses weke aan mikrogravitasie en kosmiese straling blootgestel sal word. Ná hul terugkeer na die aarde sal die sade saam met gewone kontrolesade geplant word om te bepaal hoe ruimte-omstandighede ontkieming, groei, weerbaarheid en opbrengs beïnvloed.
Leerders van sewe skole in die Cederberg – die geboorteplek van rooibos – sal saam met plaaslike rooibosboere die sade plant en die resultate monitor as deel van ‘n wetenskaplike ondersoek. Parklands College sal ook ‘n parallelle eksperiment uitvoer om bykomende vergelykende data te verskaf.
Volgens die direkteur van die SARC, Dawie de Villiers, weerspieël die projek die rooibosbedryf se fokus op innovasie, navorsing en die ontwikkeling van jong wetenskaplikes.
Die sade sal in ‘n spesiale nanolab saam met ander internasionale eksperimente na die ISS vervoer word. Die doel is nie om ‘n spesifieke uitkoms te bewys nie, maar om te ondersoek hoe ruimte-omstandighede plante beïnvloed en of die bevindinge toekomstige voedselproduksie in die ruimte én landbou op aarde kan bevorder.
Benewens die wetenskaplike navorsing sluit die projek ook ‘n uitgebreide STEM-onderwysprogram in. Leerders sal praktiese ervaring van wetenskaplike navorsing opdoen, terwyl jongmense regoor Suid-Afrika gedurende Julie en Augustus uitgenooi word om die amptelike Rooibos in Space-sendingkenteken te ontwerp.
Rooibos, wat uitsluitlik in die Cederberg-streek van die Wes- en Noord-Kaap groei, word na meer as 50 lande uitgevoer en is wêreldwyd bekend vir sy kafeïenvrye aftreksel. Met dié projek voeg Suid-Afrika nou nóg ‘n mylpaal by die unieke plant se geskiedenis.