Kobus van Heerden se handdruk is ferm en sy oë lewendig wanneer hy jou groet. Op 91 – of soos hy laggend sê, “ses maande weg van 92” – skets sy slimhorlosie ’n prentjie van ’n fiks en lewenslustige man wat nie maklik ophou nie.
Van Heerden was vanjaar die oudste deelnemer aan die Ride Joburg-wedren en het al 21 keer die Kaapstad-fietstoer voltooi – nie sleg vir iemand wat eers in sy sestigs ernstig begin trap het nie. As oud-boordtegnikus in die Suid-Afrikaanse Lugmag het hy meer as 8 400 vlugure agter sy naam, maar deesdae vlieg hy eerder oor sy ysterperd se wiele.
Hy het jare gelede begin fiets ry “om gesond te bly”, vertel hy. Sy kinders het in groepe gery en hom begin aanmoedig om saam te ry – en toe het die res geskiedenis geword. Sy eerste wedrenproesel in Hennopspark is vandag nog helder in sy geheue: net hy, sy fiets, en geen sprake van ’n valhelm nie. “Iemand wat ek ken, vra toe: ‘Oubaas, gaan jy ry?’ Ek sê ja, en toe neem hulle my na die Centurion-fietsryklub om ’n helm te kry,” lag hy.
Vandag is hy nog steeds ’n trotse lid van dié klub – en sy grootste doelwit lê reeds in die visier: nóg ’n Kaapstadfietstoer, en dalk selfs ’n rekord. Hy mik om die oudste deelnemer te word, ’n rekord wat tans aan Japie Malan behoort, wat op 92 die wedren voltooi het. Hy móét 93 jaar oud op die roete wees, sodat hulle sy naam vet kan neerskryf.
Sy klubmaats hou hom aan die gang. “Hulle mor baie oor my e-fiets,” lag hy. “Gelukkig hou hulle van my. Dalk praat hulle anders as húlle eendag 91 is!”
Van Heerden glo vas in eenvoudige, gesonde leefgewoontes. Hy gebruik nie energiejels nie – net ’n bietjie drop in sy sak vir lae energie. Hy eet reg, soos byvoorbeeld baie slaai en so nou en dan ‘n dagwood. “Dit werk vir my.” Hy oefen ook konsekwent: vyf kilometer stap hier, 60 km fietsry daar.
En raak hy ooit senuweeagtig voor ’n wedren? “Ag, nee wat,” sê hy. “Ek is nie meer op my senuwees nie – hulle het die proses ook baie vergemaklik. Jy kan dit nie eintlik mis nie.”
Met sy humor, nederigheid en ystervasberadenheid is dit duidelik: Oom Kobus trap nie net vir fiksheid nie, maar vir lewe. En dalk, net dalk, trap hy binnekort sy naam in die geskiedenis in – in vet letters.