Die Umkhonto we Sizwe (MK)-party se aangekondigde voorneme om Artikel 235 van die Grondwet te herroep. Hierdie artikel, wat die reg op selfbeskikking binne Suid-Afrika erken, vorm ’n belangrike grondslag vir gemeenskappe wat hul kultuur, taal en leefwyse wil beskerm en bevorder.
Artikel 235 bevestig dat, hoewel die Suid-Afrikaanse volk as geheel die reg op selfbeskikking het, dit nie die moontlikheid uitsluit dat gemeenskappe met ’n gedeelde kultuur- en taalerfenis ook hierdie reg binne ’n bepaalde raamwerk kan uitoefen nie. Dit is juis hierdie beginsel wat oor jare heen as grondslag gedien het vir gemeenskappe soos Orania en Kleinfontein.
In Orania se geval is selfbestuur nie ’n teoretiese ideaal nie, maar ’n praktiese werklikheid wat oor dekades ontwikkel het. Reeds vóór die totstandkoming van die huidige munisipale bestel in 2000 het Orania vir nege jaar lank sy eie dienste onafhanklik gelewer.
Hierdie selfstandigheid is ’n hoeksteen van Orania se bestaansreg en het die gemeenskap in staat gestel om ’n selfonderhoudende en funksionele dorp te bou. Die beginsels waarop Orania gevestig is – Afrikaner-selfbestuur, kultuurbewaring en selfbeskikking – is nie bloot slagspreuke nie, maar rigtinggewende waardes wat daagliks uitgeleef word.
Kleinfontein, naby Rayton, funksioneer op soortgelyke wyse as ’n privaat gevestigde gemeenskap met dieselfde doel: die bewaring van Afrikaner-kultuur en -erfenis. Sedert die aankoop van die plaas in 1992 deur die Boer Vryheidsbeweging, het hierdie nedersetting ontwikkel tot ’n gemeenskap waar inwoners hul kulturele en godsdienstige oortuigings aktief uitleef. In 2018 is die oorspronklike koöperasie omskep in ’n aandeleblokskema om die bestuur van die dorp verder te struktureer.
Die MK-party beoog om die Vier-en-twintigste Wysigingswetsontwerp van die Grondwet, 2026, ter tafel te lê om Artikel 235 te skrap. Volgens die party is die regte wat daarin vervat is reeds voldoende in die Handves van Regte beskerm, en skep die artikel bloot verwarring en teenstrydighede.
Hierdie standpunt ignoreer egter die unieke rol wat Artikel 235 speel deur erkenning te gee aan gemeenskapsgebaseerde selfbeskikking. Die Handves van Regte beskerm wel individuele regte – soos die reg om jou taal te gebruik, jou kultuur uit te leef en jou godsdiens te beoefen – maar dit is nie dieselfde as die kollektiewe reg van ’n gemeenskap om homself te organiseer en te bestuur nie.
Die MK-party voer verder aan dat Artikel 235 ’n sogenaamde “teoretiese grondslag” skep vir enklawes en semi-outonome gemeenskappe. Hierdie siening kyk egter die werklikheid mis dat gemeenskappe soos Orania binne die raamwerk van die Suid-Afrikaanse reg funksioneer en nie buite dit nie.
Onlangse uitsprake deur die Minister van Justisie, Mmamoloko Kubayi, waarin Orania as ’n “rassig eksklusiewe” groep beskryf word, dra verder by tot ’n verwronge beeld van die gemeenskap. Die bewering dat selfbeskikking noodwendig tot rasseskeiding lei, is ewe misleidend. Selfbeskikking, soos in Artikel 235 vervat, vereis juis dat dit binne die raamwerk van die Grondwet en nasionale wetgewing uitgeoefen word. Dit is dus nie ’n lisensie vir uitsluiting nie, maar ’n erkenning van diversiteit binne ’n groter geheel.
Die Vryheidsfront Plus het tereg gewaarsku dat pogings om Artikel 235 te skrap, neerkom op ’n poging om die betekenis en beskerming van selfbeskikking te verswak. Vir gemeenskappe soos Orania is hierdie artikel nie bloot simbolies nie – dit is ’n erkenning van hul bestaansreg.
Belanghebbendes het nou 30 dae om skriftelike voorleggings oor die voorgestelde wetsontwerp aan die Speaker van die Nasionale Vergadering te rig. Hierdie proses bied ’n geleentheid vir gemeenskappe om hul stem te laat hoor en die waarde van selfbeskikking binne Suid-Afrika te bevestig.
Voorleggings kan afgelewer word by die Speaker, Africa House-gebou, Kaapstad; gepos word na die Speaker, Posbus 15, Kaapstad, 8000; of per e-pos gestuur word na speaker@parliament.gov.za