TLU SA gaan in 2026 ’n nuwe hoofstuk oopmaak met die bekendstelling van ’n Jeugboer van die Jaar-kompetisie vir skoliere.
Die projek bou voort op die sukses van die bestaande Jongboer van die Jaar-kompetisie, maar fokus nou daarop om jong mense reeds op ’n vroeë ouderdom by landbou en entrepreneurskap te betrek. Deelnemers sal deur praktiese landbou- en voedselprojekte vaardighede soos kreatiwiteit, verantwoordelikheid en selfstandigheid ontwikkel.
Volgens Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, het die Jongboer-kompetisie oor jare bewys dat dit ’n waardevolle platform is waar jong landbouers hul vermoëns kan demonstreer. Hy sê die uitbreiding na skole is daarop gemik om kinders vroeg bloot te stel aan volhoubare landboupraktyke en die basiese beginsels van ondernemingskap.
Die fokus van die nuwe kompetisie val op probleemoplossing en kreatiewe denke, selfs op kleiner skaal. Leerders word aangemoedig om nie net boerdery as ’n grootbedryf te sien nie, maar ook om idees en praktiese planne te ontwikkel wat ’n verskil in hul gemeenskappe kan maak.
Van Zyl beklemtoon dat dit belangrik is dat jong mense leer om idees in aksie om te sit en verantwoordelikheid te neem. Hy glo die projek kan help om die volgende geslag landbouleiers en innoveerders te vorm.
Die Jeugboer van die Jaar-kompetisie skop in 2026 af en word beskou as ’n belowende nuwe platform waar skole en jong deelnemers hul idees en talente aan ’n wyer gehoor kan bekendstel.
Minderjariges wat wil deelneem, sal toestemming van ’n ouer of voog nodig hê, veral vir inskrywings en die gebruik van foto’s en video’s vir promosiedoeleindes.
Vind meer uit, of skryf in vir Jeugboer van die jaar hier: TLU SA Jeugboer van die Jaar 2026