Die dreuning van 31 kanonne gaan op Erfenisdag, 24 September, op verskillende plekke reg oor Suid-Afrika gehoor word wanneer ’n historiese kommunikasiestelsel uit die Kaap se vroeë geskiedenis opnuut uitgebeeld word.

Die Suid-Afrikaanse Kanonniersvereniging (CAOSA) beplan ’n landwye kanonkettingskoot waartydens kanonne op vasgestelde tye van Simonstad en Kaapstad in die suide tot by Lephalale, voorheen Ellisras, in Limpopo afgevuur sal word.

Die geleentheid boots die Hollandse kanonoproepstelsel na wat eeue gelede gebruik is om boodskappe oor lang afstande te versend.

Kanonskote het boodskappe oorgedra

Die stelsel het in die middel van die 17de eeu ontstaan en is deur die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) gebruik om onder meer waarskuwings, bevele en ander belangrike boodskappe tussen afgeleë poste oor te dra.

Teen ongeveer 1680 is dit tot ’n georganiseerde netwerk van seinposte uitgebrei. In die 18de eeu het die netwerk uiteindelik uit meer as 40 stasies bestaan wat die Kaap met nedersettings verder die binneland in verbind het.

Verskillende getalle kanonskote het verskillende boodskappe oorgedra, terwyl rook- en klankseine kommunikasie oor groot afstande moontlik gemaak het.

Op sy hoogtepunt rondom 1800 was die oproepstelsel een van die mees gevorderde vorme van langafstandkommunikasie in Suider-Afrika. Seine is vanuit Kaapstad na onder meer Swellendam, Worcester, Tulbagh, Piketberg en Citrusdal oorgedra.

Die stelsel het ’n belangrike rol gespeel om nedersettings teen moontlike bedreigings te waarsku, hulp op te roep en amptelike kennisgewings te versprei – lank voordat telegraaflyne en moderne kommunikasiemiddele beskikbaar was.

Volgens CAOSA is vanjaar se kettingskoot daarop gemik om dié deel van Suid-Afrika se geskiedenis te herdenk en terselfdertyd die land se historiese voorlaaikanonne te bewaar en aan die publiek bekend te stel.

Grietjie dreun by Voortrekkermonument

Die Voortrekkermonument in Pretoria vorm deel van die landwye ketting. Om 13:00 op 24 September sal ’n replika van die bekende kanon Grietjie tydens die Toeka tot Toekoms Erfenisdagfees afgevuur word.

Dawid Brand, die Kultuurtuiste se bedryfshoof vir bemarking en kommunikasie, sê kanonne vorm reeds langer as drie eeue deel van Suid-Afrika se geskiedenis.

Volgens hom het kanonne ’n belangrike rol gespeel in onder meer die verdediging van die Kaap, die beskerming van handelsroetes en die ontwikkeling van militêre strategieë.

Bekende kanonne soos Grietjie en Susanna, wat by die Voortrekkermonument gehuisves word, vorm volgens Brand ’n besondere deel van Suid-Afrika se militêre en kulturele erfenis.

Hy sê die afvuur van Grietjie se replika verbind die monument simbolies met ’n eeue oue tradisie van kommunikasie, samewerking en gemeenskapsbeskerming.

Historiese terreine deel van ketting

Verskeie bekende erfenisterreine gaan aan die landwye geleentheid deelneem. Dit sluit die Kasteel die Goeie Hoop, die FAK se Udolpho-Rivierplaas buite Parys, Bloedrivier, die Oorlogsmuseum in Bloemfontein, Long Tom-pas en Waterval Boven in.

Die publiek word genooi om die kanonskoot by die Voortrekkermonument as deel van die Erfenisdagvieringe by te woon.

Vanjaar se geleentheid val ook saam met CAOSA se 21ste bestaansjaar. Die vereniging werk sedert 2005 om historiese kanonne op te spoor, te dokumenteer en te bewaar en, waar toepaslik, vir opvoedkundige en erfenisdoeleindes te demonstreer.

Die landwye ketting van 31 kanonskote sal die historiese Hollandse oproepstelsel herdenk en terselfdertyd die belang van die bewaring van Suid-Afrika se kanon- en kultuurerfenis beklemtoon.