’n Bejaarde egpaar is Sondagaand ure lank aangeval en gemartel tydens ’n plaasaanval op ’n wildsplaas in Broederstroom, naby Hartbeespoort.
Die slagoffers is volgens ’n familievriend Les en Natasha Brett. Die egpaar is omstreeks 19:00 deur drie gewapende mans in hul huis oorval en vir ongeveer drie uur aangehou.
Volgens beskikbare inligting is hulle ernstig aangerand, met kookwater gebrand en verskeie kere gesteek. Die aanvallers het hulle na bewering gemartel om toegang tot vuurwapens te kry.
Die aanvallers het uiteindelik met verskeie vuurwapens van die plaas gevlug.
Die Security Response Unit (SRU) het omstreeks 22:30 ’n noodoproep ontvang en lede is onmiddellik na die eiendom gestuur. Hulle was binne enkele minute op die toneel.
Hommeltuie is kort daarna ontplooi om die eiendom en omliggende gebied vir die verdagtes te deursoek, maar niemand is tydens die aanvanklike soektog opgespoor nie.
Lede van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum en Harties Emergency Medical Services het ook gehelp. Nooddienste het die egpaar op die toneel behandel en verdere mediese hulp gereël.
Les Brett is bekend vir sy werk met renosters en staan ook as die “Renosterfluisteraar” bekend.
Die polisie ondersoek ’n saak van huisroof. Geen arrestasies is aanvanklik aangemeld nie.
Die aanval volg minder as ’n week ná die gewelddadige aanval op Donovan Marx tussen Potchefstroom en Ventersdorp, waarin hy geskiet, gesteek en gemartel is.