Die All Blacks se eerste Suid-Afrikaanse toer in 30 jaar het skouspelagtige rugby opgelewer, maar duisende leë sitplekke tydens hul wedstryde teen die Sharks en Bulls laat vrae ontstaan oor kaartjiepryse en of gewone ondersteuners uit stadions geprys word.
Die openingswedstryd teen die Stormers in Kaapstad het sowat 47 000 toeskouers gelok – ongeveer 85% van die DHL-stadion se kapasiteit.
Daarna het bywoning egter skerp afgeneem. Sowat 14 000 mense het die All Blacks teen die Sharks op Kings Park in Durban gekyk, terwyl ongeveer 30 000 ondersteuners vir die wedstryd teen die Bulls op Loftus Versfeld opgedaag het. Laasgenoemde was ongeveer 60% van die stadion se kapasiteit.
Kaartjies tot R650
Nqobile Ndlovu, stigter en direkteur van Cash N Sport, meen kaartjiepryse is deel van die probleem, maar nie die enigste rede vir die leë sitplekke nie.
Volgens hom speel die samestelling van die Suid-Afrikaanse spanne wat teen die All Blacks te staan kom ook ’n rol. Hy het gesê dié spanne herinner sterk aan die huidige Curriebeker-spanne, wat volgens hom ’n invloed kan hê op wat ondersteuners bereid is om te betaal.
Wedstrydtye en weersomstandighede speel ook ’n rol. Die Sharks se kragmeting teen die All Blacks is byvoorbeeld op koue ’n Dinsdagaand in Durban gespeel.
Hoewel kaartjies vanaf R250 beskikbaar was, het Ndlovu gesê relatief min kaartjies was teen dié prys beskikbaar.
“Die meerderheid van daardie kaartjies het vir R350, R450 en tot R650 gegaan, met R650 as die mediaan,” het hy gesê.
Ondersteuners moet volgens hom ook besluit of hulle honderde rande wil betaal om ’n provinsiale span in ’n opwarmingswedstryd teen die All Blacks te sien, of eerder hul geld vir ’n Springbok-toets wil spaar.
Springbokke as ‘Ferrari’
Volgens Ndlovu beskou SA Rugby die Springbokke toenemend as ’n premiumproduk waarvoor ondersteuners bereid sal wees om meer te betaal.
“Hulle sien die Springbokke amper soos ’n Ferrari. Maar jy kan nie ’n Ferrari goedkoop verkoop net omdat sommige mense dit goedkoop wil hê nie,” het hy gesê.
Volgens Ndlovu word meer as 90% van SA Rugby se inkomste deur die Springbokke gegenereer. Hy meen SA Rugby kan daarom bereid wees om swakker bywoning by wedstryde waar provinsiale spanne teen die All Blacks speel, te aanvaar, aangesien die groot Springbok-toetse steeds sterk aanvraag geniet.
Ndlovu sê SA Rugby het aangedui dat sy prysstrategie ondersoek word, hoewel hy twyfel of kaartjiepryse beduidend sal verander.
Die leë sitplekke gaan egter nie net oor kaartjieverkope nie. Stadions met talle leë sitplekke beïnvloed ook die atmosfeer, hoe wedstryde op televisie vertoon en hoe Suid-Afrikaanse rugby internasionaal waargeneem word. Volgens die bron het internasionale media ook vrae oor die swak bywoning by sommige van die All Blacks se opwarmingswedstryde geopper.
Die All Blacks bly een van wêreldrugby se groot trekpleisters, maar die skares in Durban en Pretoria dui daarop dat nie alle ondersteuners bereid is om premiumpryse te betaal wanneer die Suid-Afrikaanse span op die veld nie die Springbokke is nie.