Vier Renaissance-skilderye van “buitengewone waarde” is uit ’n museum op Sisilië gesteel. Die Italiaanse polisie ondersoek nou wie agter die diefstal sit en hoe die diewe toegang tot die gebou verkry het sonder om die alarmstelsel te aktiveer.
Italië se minister van kultuur, Alessandro Giuli, het bevestig dat drie panele van die Polyptych of San Gregorio en ’n dubbelkantige paneel van Madonna with Child and Christ in Pietà Saterdagaand uit die Streeksinterdissiplinêre Museum van Messina gesteel is.
Al die werke word aan die 15de-eeuse Sisiliaanse Renaissance-skilder Antonello da Messina toegeskryf.
Volgens die Italiaanse nuusagentskap Ansa vermoed ondersoekers voorlopig dat die werke moontlik op bestelling vir die swart kunsmark gesteel is.
Die dubbelkantige paneel is volgens Ansa direk uit ’n beveiligde vertoonkas verwyder. Al die gesteelde werke is op houtpanele geskilder en kon dus nie maklik opgerol en weggedra word nie.
Die museum se direkteur, Marisa Mercurio, het gesê die diefstal het vermoedelik Saterdag omstreeks 21:50 plaaslike tyd plaasgevind.
“Ons is geskok oor wat gebeur het,” het sy gesê en die diefstal as ’n groot verlies vir die museum, die stad, die gemeenskap en die kunswêreld beskryf.
Meesterwerke uit die 15de eeu
Antonello da Messina is op Sisilië gebore en grootgemaak en het een van die meesters van die vroeë Renaissance geword.
Sy San Gregorio Polyptych, wat in 1473 geskilder is, beeld die Maagd Maria met die Jesuskind uit, met Sint Gregorius, Sint Benedictus en verskeie engele. Vyf panele van die oorspronklike kunswerk het behoue gebly.
Die dubbelkantige werk beeld aan die een kant die Maagd Maria met die Jesuskind uit en aan die ander kant die gestorwe Christus. Die klein formaat daarvan dui daarop dat dit waarskynlik vir persoonlike geloofsbeoefening gebruik is.
‘Messina sal nie toelaat dat sy geskiedenis gesteel word nie’
Messina se burgemeester, Federico Basile, het hom “diep verontwaardig” oor die diefstal verklaar.
“’n Erfenis wat aan al die mense van Messina behoort, is geskend,” het hy gesê. “Messina sal nie toelaat dat sy geskiedenis gesteel word nie.”
Die voorval volg op verskeie opspraakwekkende kunsdiefstalle in Europa. Net dae tevore het Italië se spesialiseenheid vir kunsmisdaad aangekondig dat drie werke deur Cézanne, Renoir en Matisse, met ’n gesamentlike waarde van €9 miljoen, teruggevind is nadat dit vroeër vanjaar uit ’n museum naby Parma gesteel is.
Die jongste diefstal plaas die beveiliging van Europa se kosbare kunsskatte opnuut in die kollig.