Die Internasionale Skaakfederasie (FIDE) het die voormalige wêreldkampioen Vladimir Kramnik vir twee jaar geskors nadat sy Etiek- en Dissiplinêre Kommissie (EDC) hom aan verskeie oortredings van die organisasie se etiese en dissiplinêre kodes skuldig bevind het.
Die laaste 12 maande van die skorsing is vir ‘n proeftydperk van drie jaar opgeskort. Dit beteken Kramnik sal tans een jaar lank aktief geskors wees, mits hy nie verdere oortredings gedurende die proeftydperk begaan nie.
Benewens die skorsing moet hy ook 12 maande se onbetaalde diens ten bate van die internasionale skaakgemeenskap verrig.
Die saak het ontstaan nadat FIDE se Bestuursraad en Fair Play-kommissie klagtes ingedien het oor ‘n volgehoue reeks openbare verklarings en plasings op sosiale media waarin Kramnik bewerings oor grootmeesters, onder andere David Navara en Daniel Naroditsky, asook ander spelers gemaak het.
Die EDC het bevind dat Kramnik hom onder meer skuldig gemaak het aan afknouery en kuberafknouery, sielkundige mishandeling, ongegronde openbare beskuldigings, versuim om met die Fair Play-kommissie se ondersoek saam te werk en gedrag wat nie van ‘n rolmodel verwag word nie.
Verskeie ander aanklagte, waaronder beweerde oortredings wat verband hou met integriteit, eerlikheid, aanspreeklikheid en die benadeling van FIDE se reputasie, is egter van die hand gewys omdat dit volgens die kommissie nie voldoende bewys is nie.
In sy uitspraak beklemtoon die EDC dat die bekamping van kullery steeds een van FIDE se hoogste prioriteite is. Die kommissie sê bewerings van kullery moet egter deur die organisasie se gevestigde, vertroulike prosedures hanteer word en deur voldoende bewyse ondersteun word.
Volgens die kommissie het Kramnik se openbare beskuldigings identifiseerbare spelers aan onnodige reputasie- en sielkundige skade blootgestel.
Die EDC het ook beklemtoon dat die ondersoek nie bedoel was om Kramnik se metodologie vir die opsporing van kullery te beoordeel nie. Volgens die kommissie kon daar nie ‘n finale oordeel daaroor gemaak word nie omdat die metodologie nie volledig bekend gemaak is nie.
Kramnik kan binne 21 dae teen die beslissing appelleer.