Vyf historiese voorwerpe met besondere bande met Vader Kestell en die Uys-familie is aan die Erfenisstigting (ES) geskenk, waar dit voortaan as deel van die Afrikaner se geloofs-, familie- en kultuurgeskiedenis bewaar sal word.
Vier van die erfstukke het aan die bekende predikant, kerkleier en geskiedskrywer dr. Johannes Daniël Kestell, oftewel Vader Kestell, behoort. Sy nageslag het die voorwerpe aan die ES toevertrou.
Die vyfde skenking is ’n Bybel van Johannes Zacharias Uys, ’n familielid van die Voortrekkerheld Dirkie Uys en kleinseun van Jacobus Johannes Uys, beter bekend as “Koos Bybel” Uys.
Kestell se eie Bybel en boek bewaar
Een van die belangrikste Kestell-erfstukke is sy persoonlike outeursafskrif van die derde uitgawe van Die Voortrekkers, ’n Kort geskiedenis, wat in 1926 verskyn het en deur Kestell self geskryf is.
Nog ’n besondere toevoeging is Kestell se vertalersafskrif van die Afrikaanse Bybel uit 1933, wat deur al vyf Bybelvertalers onderteken is. Dit bevat ’n nota wat op 23 Augustus 1933 gedateer is – vier dae voordat die vertaling op 27 Augustus amptelik deur die kerke in gebruik geneem is.
Die ander twee Kestell-erfstukke is Historisch Album van de Geschiedenis van de NG Kerk uit 1910, met ’n nota van die outeur en ’n persoonlike opdrag aan Kestell, asook ’n 20ste-eeuse houtstoel wat aan hom behoort het en deur sy familie bewaar is.
Lizette Jansen, bestuurder van die Erfenisstigting, sê die waarde van die skenking lê daarin dat die voorwerpe verskillende dele van Kestell se lewe belig en terselfdertyd met die groter geskiedenis van geloof, Afrikaans, kerklike ontwikkeling en die Afrikaner verbind word.
Bybel met besondere Voortrekkerverbintenis
Die Uys-Bybel het aan Johannes Zacharias Uys, wat in 1850 gebore is, behoort. Familie-inligting oor sy herkoms is volgens die ES deur Johan Fourie van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika nagegaan en bevestig.
Uys was ’n nefie van Dirkie Uys, wat in 1838 tydens die Slag van Italeni gesterf het toe hy sy vader, Piet Uys, probeer beskerm het.
Sy oupa was “Koos Bybel” Uys, die Voortrekker aan wie Britse Setlaars ’n Bybel oorhandig het. Dié gebeurtenis is later op die marmerfries in die Voortrekkermonument uitgebeeld en het ’n bekende simbool van die plek van geloof in die Groot Trek geword.
Die geskenkte Bybel vorm daarmee ’n tasbare verbinding tussen ’n latere geslag van die Uys-familie en dié bekende hoofstuk uit die Voortrekkergeskiedenis.
Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Kultuurtuiste, sê voorwerpe soos ou Bybels, boeke, meubels en handgeskrewe notas help om geskiedenis op ’n persoonlike en tasbare manier vir toekomstige geslagte te bewaar.
Die Erfenisstigting moedig families daarom aan om ou Bybels, dokumente, foto’s, briewe, dagboeke, boeke en ander familie-erfstukke met moontlike kultuurhistoriese waarde te identifiseer en professioneel te laat bewaar.