Die waarnemende minister van polisie, prof. Firoz Cachalia, het Vrydag gewaarsku dat Suid-Afrika steeds met onaanvaarbaar hoë misdaadvlakke worstel, ondanks ’n afname in sommige kategorieë van kontakmisdaad gedurende die tweede kwartaal van die boekjaar.
Cachalia het saam met dr. Polly Boshielo, adjunkminister van polisie, en genl. Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris, die nuutste misdaadstatistiek vir Julie tot September bekend gemaak. Volgens die syfers is 5 794 moorde in dié drie maande aangemeld — wel 751 minder as ’n jaar gelede, maar steeds gemiddeld 62 moorde per dag.
Seksuele oortredings het effens afgeneem, maar bly ontsettend hoog met 12 787 aangemelde verkragtings. Poging tot moord het met 194 gevalle tot 7 255 toegeneem, terwyl roof met geweld wel ’n daling toon. Kontakmisdaad in die algemeen het met 3,1% afgeneem.
Cachalia sê die publiek se vrees en moedeloosheid is verstaanbaar. “Te veel misdadigers kom weg met hul dade, en dit ondermyn mense se geloof in veiligheid en geregtigheid.” Hy het ook medelye uitgespreek met families wat deur geweld getraumatiseer is en beklemtoon dat die huidige vlakke van geweldmisdaad eenvoudig onaanvaarbaar is.
Uit die statistiek blyk dit dat die Wes-Kaap steeds een van die hoogste moordvlakke toon, met vier uit die vyf gevaarlikste gebiede in dié provinsie.
• 959 moorde spruit uit argumente, misverstande en padwoede.
• 1 659 moorde het in die huise van verdagtes of oortreders plaasgevind.
• 2 447 moorde is landwyd met ’n vuurwapen gepleeg.
• 959 moorde spruit uit argumente, misverstande en padwoede.
• 1 659 moorde het in die huise van verdagtes of oortreders plaasgevind.
• 2 447 moorde is landwyd met ’n vuurwapen gepleeg.
Die verslag toon ook dat 4 562 verkragtings in slagoffers se eie huise of dié van familielede plaasgevind het — ’n skerp aanduiding van die voortdurende gevaar van huishoudelike en bekende-oortreder-geweld. Daarbenewens is 144 verkragtings by opvoedkundige instellings aangemeld, wat ernstige vrae laat ontstaan oor leeromgewings se veiligheid.
Verdere besonderhede en volledige statistieke is op die polisie se webwerf beskikbaar.