Die Wesfrontvasbyt 2025 het vanjaar ’n historiese mylpaal bereik toe die groep stappers die eerste mense was wat sedert 27 Februarie 1900 weer in generaal Piet Cronjé se laer by Vendusiedrift oornag het. Die vierdaagse stap, wat sowat 55 kilometer beslaan het, het deelnemers deur die slagvelde van die Anglo-Boereoorlog geneem – van Belmont en Graspan tot Magersfontein en Paardeberg – onder leiding van  Cara Tomlinson, kultuurkoördineerdervan die FAK, en historikus dr. Louis Bothma.
“Ons maak geskiedenis,” sê Tomlinson. Om in Cronjé se laer te slaap was ’n besondere belewenis.
Die stappers het langs die Modderrivier en ou treinspoor beweeg, grafte van gesneuwelde Boere en Kanadese besoek, en plaashuise uit die oorlogstyd verken. Die roete het ook gelei na De Wet se koppie en die privaat De Wet-museum, waar die Van Niekerk-familie steeds hul voorouers se geskiedenis bewaar.
Op die laaste dag het die groep om 02:00 vertrek vir ’n 11 kilometer lange nagmars van Koedoesdrif na Vendusiedrift, dieselfde pad wat Danie Theron destyds as spioen gestap het. Met sonsopkoms het die stappers saam koffie geniet – ’n eenvoudige maar betekenisvolle gebaar van verbondenheid oor tyd heen.
Die vasbyt is afgesluit met ’n stil huldeblyk by die Boeremonument by Paardeberg, waar die “Onse Vader” oor die veld weergalm het.
“Die Wesfrontvasbyt is meer as net ’n historiese staproete,” sê Tomlinson. “Dis ’n lewende leerskool.”
Met steun van die Solidariteit Beweging, Orania Beweging, Solidariteit Helpende Hand en OOM (Ons Erfenis en Monumente), wys die Wesfrontvasbyt dat die bewaring van geskiedenis nie net oor monumente gaan nie, maar oor mense – en oor die jonger geslagte wat bereid is om dit voort te dra.