Die minister van sport, kuns en kultuur, Gayton McKenzie, het kritiek verwerp dat hy glo teen Afrikaans gekant is, en gesê dié siening is ’n “totale wanindruk”.
“Hoe kan ek teen Afrikaans wees maar ek praat Afrikaans?” het McKenzie Dinsdag tydens ’n mediakonferensie gesê. “Ek het my matriek in Afrikaans geskryf. Ek is baie lief vir Afrikaans – bitterlik lief vir Afrikaans.”
McKenzie het ook sterk ontken dat sy departement doelbewus staatsfondse van Afrikaanse feeste en monumente, soos die Voortrekkermonument, weerhou. “Dit is ’n blatante leuen. Malligheid,” het hy gesê. “Ek is baie trots op Afrikaans. Dit is my eerste taal.”
Die minister het verduidelik dat daar talle monumente in die land is wat in erge verval verkeer en dringende hulp benodig.
Wat Afrikaanse feeste betref, het McKenzie gesê: “Afrikaanse feeste het baie borge. Daar is egter plekke soos Langa, Gugulethu en Mitchells Plain wat nie dieselfde ondersteuning kry nie. Ons kyk waar die behoefte die grootste is.”
Volgens hom gaan dit nie oor taal nie, maar oor gelyke ondersteuning en billike hulpbronne. “Niemand is teen iemand gekant nie. Ons moenie van alles politiek wil maak nie,” het hy afgesluit.