Die nie-winsgewende organisasie Women and Men Against Child Abuse (WMACA) sê nóg ’n uitstel in die vonnisoplegging van die veroordeelde pedofiel, Iain Wares, veroorsaak verdere trauma vir sy slagoffer.
Die Wynberg-streekhof het Woensdag die saak tot Julie uitgestel nadat Wares se regspan meer tyd gevra het om ’n verslag van ’n privaat maatskaplike werker te bekom.
Dieselfde versoek het reeds in Mei tot ’n uitstel gelei.
Wares is in Maart skuldig bevind aan die onsedelike aanranding van ’n voormalige leerling van die Laerskool Rondebosch Boys in 1988.
Miranda Jordan, direkteur van WMACA, sê die jongste uitstel ontneem die slagoffer van die afsluiting waarop hy al jare wag.
Volgens haar het die slagoffer reeds ’n lang regsproses deurstaan en verdien hy geregtigheid.
“Dit voel eerlikwaar soos marteling dat ons maand ná maand, jaar ná jaar hier sit en wag dat mnr. Wares uiteindelik gevonnis word,” het Jordan gesê.
Sy sê die uitstel het ook die frustrasie verdiep van mense wat die saak nougeset volg.
“Soveel mense wag op geregtigheid, insluitend almal van ons wat hierdie proses al so lank moet aanskou en deurmaak.”
Voorvonnis-betoë sal na verwagting op 15 Julie begin.