Die NHS het twee dae gewag het voordat hulle alarm gemaak het oor die uitbreking van meningitis. Die Britse Gesondheidsveiligheidsagentskap (UKHSA) is die eerste keer van ’n geval in kennis gestel deur die Queen Elizabeth the Queen Mother-hospitaal in Margate op die middag van Vrydag 13 Maart.
Die pasiënt is egter reeds twee dae vroeër in die hospitaal opgeneem, maar daar was ’n vertraging om gesondheidsowerhede in kennis te stel – ondanks ’n wetlike vereiste dat gevalle onmiddellik gerapporteer moet word. Dit het beteken dat daar ’n vertraging was in die opsporing van noue kontakte van die pasiënt en moontlik ook in die identifisering van ’n groter uitbreking.
Die hospitaal – wat deur die East Kent Hospitals NHS Trust bestuur word – het erken dat hulle ’n geleentheid gemis het om die UKHSA vroeër te waarsku. Hulle het gesê hulle het gewag vir ’n formele diagnose deur ’n bevestigde toets.
Dr. Des Holden, waarnemende uitvoerende hoof van die East Kent Hospitals NHS Trust, sê die pasiënt het Woensdagaand vir die eerste keer aangemeld.
“Ons erken daar was ’n geleentheid om die UKHSA voor die diagnose in kennis te stel.
“Ons kan nie in detail ingaan oor individuele pasiënte se behandeling nie, maar die trust is sedert Vrydag 13 Maart in noue kontak met die UKHSA oor die bestuur van pasiënte met vermoedelike meningitis,” het hy gesê.
Indringende meningitis word as ’n dringende aanmeldbare siekte geklassifiseer, en ingevolge die Gesondheidsbeskermingsregulasies van 2010 moet gevalle so gou as moontlik aan gesondheidsowerhede gerapporteer word sodra dit vermoed word. Hospitale hoef nie te wag vir toetse of ’n formele diagnose nie.
Kenners het die vertraging gekritiseer en gesê dit kon mense in gevaar gestel het, aangesien vroeë waarskuwings aan die publiek sou beteken het dat persone wat later simptome ontwikkel het, vinniger mediese hulp kon soek.
Van die 23 vermoedelike en waarskynlike gevalle – almal jong volwassenes en tieners – het twee mense reeds gesterf en vier was teen Maandag in intensiewe sorg.
Volgens syfers wat deur die UKHSA bekend gemaak is, het tien mense simptome ontwikkel tussen die eerste bekende opname en die tyd toe die UKHSA eers op die aand van Sondag 15 Maart ’n openbare waarskuwing uitgereik het oor die uitbreking.