Die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, word deur Rocco Oosthuizen gedagvaar vir skadevergoeding van R750 000. Dit volg op ’n voorval vier jaar gelede by Hoërskool Jan Viljoen in Randfontein, waar Oosthuizen van rassisme beskuldig is.
Oosthuizen was destyds die onderhoofseun van die skool en het probeer om ’n bakleiery tussen twee leerders te beëindig toe die voorval plaasgevind het.
Volgens berigte het een van die betrokke leerders bande met die EFF gehad en die “Kill the Boer”-dreunsang by die skool gesing. Die situasie het vinnig ontaard in spanning tussen leerders, asook breër verdeeldheid in die gemeenskap.
Kort ná die voorval is Oosthuizen se naam op plakkate by die skool versprei, met slagspreuke soos “Rocco must fall” en “Rocco we want you”. Dreigemente is ook op sosiale media teen hom gerig, en hy is van rassisme beskuldig.
Hy en sy suster is uiteindelik uit die skool gehaal. Sy ma, Lizaan, wat destyds by die skool gewerk het, het ook haar werk verloor.
Sommige mense het Oosthuizen selfs met die dood gedreig.
Lesufi, wat destyds die LUR vir onderwys was, het by die skool opgedaag en verskeie opmerkings oor die Oosthuizen-gesin gemaak. Hy het ook aangedui dat die Menseregtekommissie hul optrede sou ondersoek. Die gebeure is op video vasgelê en wyd in die media uitgesaai.
Volgens die dagvaarding wat verlede maand ingedien is, word Lesufi as eerste verweerder genoem. Die Gautengse LUR vir onderwys en die hoof van die departement van onderwys in Gauteng is ook as tweede en derde verweerders ingesluit.
Oosthuizen voer aan dat Lesufi se optrede sy goeie naam geskaad het, sy waardigheid aangetas het en emosionele skade veroorsaak het.
In hofstukke verwys hy ook na spesifieke uitsprake wat Lesufi oor hom en sy ma gemaak het.
Ten tyde van die voorval was Oosthuizen minderjarig, maar hy is nou oud genoeg om self die regstappe te neem.
Volgens die dagvaarding was Lesufi se stellings onregmatig, verkeerd en lasterlik. Oosthuizen meen dit het die indruk geskep dat hy aan rassistiese gedrag deelgeneem het, of dat hy deur die Menseregtekommissie ondersoek sou word.
Sy regsverteenwoordiger, Millie Westley, het bevestig dat Oosthuizen ná die voorval gesukkel het om toelating by ander skole te kry. Hy het ook sy beurs verloor.
Oosthuizen het nie ná skool verder gaan studeer nie en werk tans saam met sy pa.
Volgens Westley het die gebeure ’n groot impak op sy lewe gehad.
“Rocco en sy gesin het almal ’n groot knou gekry. Hy is verbitter deur wat gebeur het en probeer steeds sy reputasie herstel. Hy is nog jonk, maar die gevolge van hierdie voorval sal hom waarskynlik lewenslank raak,” het sy gesê.