Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het bevestig dat Suid-Afrika nie die komende G20-vergadering van finansiële leiers in Washington sal bywoon nie, nadat die Verenigde State die land se akkreditasie geweier het. Die goewerneur van die Reserwebank, Lesetja Kganyago, sal eweneens nie die byeenkoms bywoon nie.
Hierdie verwikkeling volg op ’n groter diplomatieke breuk, met die Verenigde State wat Suid-Afrika ook van die 2026 G20-beraad in Miami, Florida, uitgesluit het. Onder president Donald Trump het Washington besluit om eerder die Afrika-unie as verteenwoordiger van die vasteland te erken, wat Suid-Afrika se rol as onafhanklike lidstaat wesenlik verswak.
Die versuring in die verhouding tussen die twee lande is nie nuut nie. Dit spruit uit Suid-Afrika se buitelandse beleid, veral sy nouer bande met Rusland, Iran en China, asook sy openlike kritiek op Westerse beleid. Die regering se hantering van internasionale konflikte, en sy pogings om ’n sogenaamde “onafhanklike” koers te volg, het toenemende spanning met Washington veroorsaak.
Daarbenewens het die VSA reeds tydens Suid-Afrika se G20-voorsitterskap in 2025 sy ontevredenheid gewys deur sekere byeenkomste te boikot en die land se ekonomiese en diplomatieke standpunte uit te daag.
President Donald Trump het vroeër duidelik gemaak dat Suid-Afrika nie welkom sou wees by vanjaar se beraad nie—’n verdere aanduiding dat die VSA nie langer bereid is om Pretoria se buitelandse koers te duld nie.
Die uitsluiting beteken dat die G20 vanjaar in praktyk as ’n “G19” sal funksioneer. Dit dui ook daarop dat lidmaatskap nie vanselfsprekend is nie en dat lande wat hulself buite die Westerse blok plaas, hul invloed kan verloor.
Suid-Afrikaanse amptenare probeer intussen die situasie as tydelik voorhou. Godongwana sê die land hoop om teen 2027 weer volwaardig deel te neem wanneer die Verenigde Koninkryk die G20-voorsitterskap oorneem.
Vir baie is hierdie ontwikkeling ’n duidelike waarskuwing: ’n land se buitelandse beleid het werklike gevolge