‘n Nuwe studie dui daarop dat gereelde Bybellees mense se welstand meer bevorder as aktiwiteite soos oefening, meditasie of tyd saam met vriende.
Die studie, deel van die American Bible Society (ABS) se jaarlikse State of the Bible-verslag, het ondersoek ingestel na hoe algemene selfversorgingsaktiwiteite mense se vlakke van stres, angs, eensaamheid en hoop beïnvloed.
Navorsers het die uitwerking van aktiwiteite soos oefening, gemeenskapsdiens, meditasie en gebed met dié van gereelde Bybellees vergelyk.
Hoewel mense wat gereeld die Bybel lees in die meeste selfversorgingsaktiwiteite in soortgelyke mate as ander deelneem – met die uitsondering van oefening – het die studie bevind dat Bybellees met laer vlakke van stres, angs en eensaamheid, asook groter hoop, verband hou.
John Plake van die American Bible Society sê mense wat voortdurend na die Skrif terugkeer, vind gerusstelling in tye van spanning, hoop vir die toekoms en ‘n groeiende verhouding met die God wat hulle innig liefhet.
“Wanneer mense aanhou om na die Skrif terug te keer, ontdek hulle gerusstelling in moeilike tye, hoop vir die toekoms en ‘n dieper verhouding met God,” het Plake gesê.