’n Man in Texas is Woensdagaand deur middel van dodelike inspuiting tereggestel, net ’n week nadat ’n soortgelyke poging om Christa Pike in Tennessee tereg te stel, misluk het.

Jamaal Howard (46) is in die staatsgevangenis in Huntsville met pentobarbital ingespuit en is om 20:03 plaaslike tyd dood verklaar.

Howard se prokureurs het voor die teregstelling kommer uitgespreek oor Texas se gebruik van pentobarbital, dieselfde middel wat tydens Pike se mislukte teregstellingspoging gebruik is. Hulle het aangevoer dat Texas se voorraad van die middel moontlik agteruitgegaan het en het goewerneur Greg Abbott gevra om die teregstelling met 30 dae uit te stel sodat hulle meer inligting oor die middel kon bekom. Die uitstel is nie toegestaan nie.

Howard se laaste hofappèlle het ook oor sy geestesgesondheid en beweerde intellektuele gestremdheid gehandel. Die howe het sy versoeke van die hand gewys en die Amerikaanse Hooggeregshof het Woensdagaand ook geweier om in te gryp.

Howard is ter dood veroordeel vir die moord op die 42-jarige Vickie Swartout tydens ’n rooftog in 2000.
Hy was 20 jaar oud toe hy Swartout, wat by ’n geriefswinkel gewerk het, doodgeskiet het. Hy het daarna $114 en sigarette gesteel.
Kort voor sy dood is Howard gevra of hy enige laaste woorde het.. Hy het Swartout se familie, wat die teregstelling vanuit ’n getuiekamer dopgehou het, om verskoning gevra. Howard het gesê hy hoop hulle sal sy verskoning aanvaar en hom eendag kan vergewe.

Die teregstelling is die eerste in die Verenigde State sedert die mislukte poging om Pike verlede week in Tennessee met dieselfde middel tereg te stel.