Altesaam 555 mense is in Iran dood sedert die Verenigde State en Israel twee dae gelede grootskaalse lugaanvalle begin het, het die Iranse Rooi Halfmaan Maandag bevestig. Volgens die organisasie is minstens 131 stede in verskillende dele van die land geraak.
Die humanitêre groep het die aanvalle as “Sionisties-Amerikaanse terreuraanvalle” beskryf en gesê honderde mense is reeds beseer.
Iran se Rewolusionêre Wag het intussen aangekondig dat hulle in reaksie missielaanvalle uitgevoer het op ’n regeringskompleks in Tel Aviv, asook op veiligheids- en militêre teikens in Haifa en Oos-Jerusalem. Volgens ’n verklaring wat op staatstelevisie uitgesaai is, is Kheibar-ballistiese missiele tydens die aanvalle gebruik.
Te midde van die toenemende spanning het verskeie Amerikaanse oorlogsvliegtuie Maandagoggend in Koeweit neergestort. Koeweit se ministerie van verdediging het bevestig dat alle bemanningslede gered is en in ’n stabiele toestand verkeer. Die oorsaak van die voorval word ondersoek.
Israel en die VSA het Saterdag met aanvalle van ongekende omvang teen Iran begin, waarna die Islamitiese Republiek met missielaanvalle regoor die streek gereageer het.
Die Internasionale Atoomenergie-agentskap (IAEA), wat Iran se kernprogram monitor, het ’n buitengewone sitting belê. Die agentskap sê hy hou die verwikkelinge noukeurig dop en doen ’n beroep op alle partye om kernveiligheidsrisiko’s te vermy.
Die konflik het ook onrus in Pakistan aangeblaas. Volgens ’n AFP-verslag is minstens 25 mense daar dood in gewelddadige betogings oor die situasie in Iran. In stede soos Karachi het betogers probeer om Amerikaanse diplomatieke geboue te bestorm, wat tot botsings met die polisie gelei het. Talle mense is dood of beseer in die geweld.