Die familie van die vermoorde Amerikaanse konserwatiewe aktivis Charlie Kirk het Maandag in die hof van aangesig tot aangesig gestaan met Tyler Robinson (23), wat van sy moord aangekla word.
Die voorlopige hofverrigtinge teen Robinson duur die hele week en sal bepaal of daar genoeg getuienis is om hom tereg te laat staan.
Kirk, stigter van die jeugorganisasie Turning Point USA en ‘n prominente bondgenoot van die Amerikaanse president Donald Trump, is op 10 September 2025 doodgeskiet terwyl hy tydens sy American Comeback-toer ‘n skare onder ‘n tent op die kampus van Utah Valley Universiteit toegespreek het. Hy het mense uitgenooi om met hom oor verskeie onderwerpe te debatteer toe die skoot geklap het.
Robinson is enkele dae later in hegtenis geneem en word van onder meer moord aangekla. Hy het nog nie op die aanklagte gepleit nie, maar aanklaers wil die doodstraf vra indien hy skuldig bevind word.
Voor die verrigtinge het Kirk se weduwee, Erika, sy ouers, Robert en Kathryn, en sy suster, Mary, in ‘n verklaring gesê elke hofverskyning herinner hulle opnuut aan sy dood en die verlies wat hul familie, veral sy twee kinders, onherroeplik geraak het.
Hulle het die publiek bedank vir die ondersteuning en gebede sedert Kirk se dood en gesê hulle sal uit respek vir die regsproses nie verdere kommentaar lewer nie.
Tydens Maandag se verrigtinge is nuwe videomateriaal, getuienis en ander bewyse aan die hof voorgelê.
David Hull, ‘n ondersoeker van Utah se Staatsburo vir Ondersoek, het getuig dat beeldmateriaal wys Robinson was vier keer op die kampus op die dag van die skietery. Volgens Hull was Robinson twee keer daar vóór die aanval, weer tydens die skietery en later die aand, ure ná Kirk se dood.
Aanklaers het ook beeldmateriaal van ‘n woonbuurt naby die kampus vertoon wat volgens hulle wys hoe Robinson sy grys Dodge parkeer en later weer daarmee wegry.
Nog ‘n getuie, Chris Bagley, ‘n wetstoepasser wat tydens die skietery op ‘n gebou naby die toneel geposisioneer was, het getuig dat hy onmiddellik besef het die skoot is met ‘n geweer en nie ‘n handwapen afgevuur nie.
Hy het aan die hof vertel dat hy later op ‘n dak ‘n skroewedraaier en merke in die gruis gevind het wat volgens hom daarop dui dat iemand vir ‘n geruime tyd in ‘n sluipskutterposisie gelê het met ‘n duidelike siglyn na die tent waar Kirk gepraat het.
Bagley het ook gesê hy het sekuriteitsbeeldmateriaal gesien waarop ‘n persoon van die dak afklim en van die toneel af wegbeweeg. Hy het getuig dat hy ná dié bevindings begin twyfel het of die persoon wat reeds in hegtenis geneem is, wel die regte verdagte was.
Robinson se regsverteenwoordigers het die getuienis bevraagteken en vrae gestel oor die universiteit se veiligheidsbeplanning, toesig en die wyse waarop Robinson as verdagte geïdentifiseer is.
Die verdediging het in vorige hofverrigtinge ook versoek dat sekere bewyse uitgesluit word en dat die moontlikheid van die doodstraf geskrap word.
Die voorlopige verhoor duur na verwagting tot Vrydag voort, waarna die hof sal besluit of die staat genoeg getuienis het om Robinson voor ‘n jurie tereg te laat staan.