Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het Internasionale Vuurwapenvernietigingsdag gevier deur 11 859 vuurwapens en vuurwapenonderdele regoor die land te vernietig.
Die vernietigingsproses is gelei deur die adjunkminister van Polisie, Polly Boshielo.
Onder die vuurwapens wat vernietig is, was 9 596 handwapens, meer as 1 000 gewere, byna 800 haelgewere en 33 kombinasievuurwapens.
Volgens polisiewoordvoerder, lt.kol. Amanda van Wyk, is 4 089 knalgewere, luggewere en tuisgemaakte vuurwapens ook vernietig.
“Hoewel hierdie wapens dikwels as minder dodelik beskou word, kan hulle aangepas word om lewendige ammunisie af te vuur en word hulle gereeld gebruik om misdade te pleeg,” het Van Wyk gesê.
Gauteng het die meeste vuurwapens vernietig, met bykans 4 000, gevolg deur KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap, waar elk meer as 2 000 vuurwapens vernietig is.
Volgens Boshielo verseker die vernietiging van vuurwapens wat aan die staat verbeurd verklaar is dat hulle nooit weer in omloop kan kom nie.
“Die permanente verwydering van onwettige vuurwapens en ammunisie uit Suid-Afrika bly ‘n belangrike stap in die bekamping van geweldsmisdaad,” het sy gesê.
Die SAPD het gesê 157 van die vuurwapens wat vernietig is, word verbind met misdade teen vroue en kinders.
Met die jongste vernietiging het die polisie die afgelope sewe jaar altesaam 317 811 vuurwapens vernietig. Volgens die SAPD weerspieël die vernietiging van vuurwapens wat aan die staat verbeurd verklaar is, die regering se volgehoue verbintenis om geweldsmisdaad te bekamp deur te verseker dat dié wapens nooit weer in omloop kom nie.