JOHANNESBURG – Vodacom en MTN het regsaksie teen die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Icasa) ingestel oor nuwe regulasies wat die oorrol, verval en oordrag van databondels, oproepminute en SMS’e reël.
Die Wysigingsregulasies op die Handves vir Eindgebruikers- en Intekenaardienste, 2025, tree op 23 Januarie 2027 in werking.
Volgens die regulasies moet ongebruikte databondels, oproepminute en SMS’e of gedeeltes daarvan minstens een keer oorgedra word wanneer die geldigheidstydperk verstryk. Die reëls geld egter nie vir bondels met ‘n geldigheid van sewe dae of minder, onbeperkte bondels of gratis en promosiebondels nie.
Die regulasies bepaal ook dat diensverskaffers nie meer buitebondelgebruik mag toelaat tensy die kliënt vooraf daarvoor inteken nie. Kliënte moet ook die opsie hê om bondels of gedeeltes daarvan aan ander gebruikers op dieselfde netwerk oor te dra.

Die opgedateerde regulasies poog onder meer om ‘n einde te maak aan die verval van ongebruikte databondels en verbruikers groter beheer oor hul aangekoopte data te gee.

Die debat oor die verval van mobiele data het intussen ook in die Parlement opgevlam. Lede van die Parlement (LP’s) het tydens ‘n toesigbesoek aan MTN se hoofkantoor in Roodepoort bevraagteken waarom mobiele data verval en aangevoer dat daar geen tegniese rede is waarom verbruikers hul aangekoopte data binne ‘n bepaalde tydperk moet gebruik nie.

Vodacom sê hy ondersteun verbruikersbeskerming, maar meen sekere bepalings van die regulasies is onduidelik en kan in die praktyk moeilik toegepas word.
Volgens die maatskappy kan die huidige bewoording daartoe lei dat oproepe outomaties beëindig word sodra ‘n kliënt se bondel opgebruik is indien die kliënt nie vooraf vir buitebondelgebruik ingestem het nie.
Vodacom voer ook aan dat onbeperkte oordrag van bondels ‘n ongereguleerde informele mark vir databondels kan skep en meen die regulasies behandel mobiele virtuele netwerkoperateurs (MVNO’s), soos Capitec Connect, FNB Connect en PnP Mobile, en infrastruktuurverskaffers nie op dieselfde grondslag nie.
MTN het bevestig dat hy op 22 Julie 2026 ‘n hersieningsaansoek teen sekere bepalings van die regulasies ingedien het.
Volgens MTN is die doel van die hofaansoek om te verseker dat die regulatoriese raamwerk wettig, redelik, mededingingsneutraal en prakties uitvoerbaar is, terwyl verbruikers steeds beskerm word.
Albei maatskappye sê hulle het eers probeer om hul besware deur gesprekke met Icasa op te los en sal voortgaan om konstruktief met die owerheid saam te werk terwyl die regsproses voortduur.
Die nuwe reëls verskil aansienlik van die huidige bedeling. Onder die bestaande regulasies kon operateurs byvoorbeeld vereis dat kliënte ‘n nuwe databondel koop voordat ongebruikte data oorgedra word. Die nuwe regulasies skryf nou minimum standaarde vir die oorrol en oordrag van bondels voor.
Icasa voer aan dat die wysigings slegs minimum standaarde voorskryf en nie mededinging tussen selfoonoperateurs belemmer nie. Die owerheid werk reeds langer as ses jaar aan die wysiging van die regulasies nadat talle klagtes ontvang is oor hoe die oorspronklike reëls, wat in 2019 in werking getree het, toegepas is.