’n Boer van Steynsrus in die Vrystaat het Saterdagoggend op ’n ontstellende toneel afgekom nadat 45 skape gedurende die nag van ’n plaas gesteel is. Minstens 20 van die gesteelde lammers is keelaf gesny en agtergelaat.
Altesaam 16 ooie en 29 lammers is Vrydagaand gesteel. Die boer, wat om veiligheidsredes anoniem wil bly, het die volgende oggend die diere se spoor in die rigting van Steynsrus gevolg.
Elke paar honderd meter het hy en ’n buurman langs die spoor op ’n dooie lam afgekom.
Volgens die boer het die bloed van sommige van die lammers nog nie eens gestol toe hulle daarop afgekom het nie.
Hy vermoed die diewe het die ooie en hul lammers aangejaag. Lammers wat nie kon byhou nie, is volgens hom eenvoudig keelaf gesny en agtergelaat.
Die twee mans het uiteindelik 20 van die 29 gesteelde lammers dood aangetref. Die oorblywende nege lammers en al 16 ooie was steeds weg.
“Dit is die wreedste wat ons nog gesien het,” het die boer gesê.
Hy het die diefstal by die polisie aangemeld en wag op ’n saaknommer.
Volgens die boer is veediefstal geen nuwe verskynsel in die Steynsrus-distrik nie en sukkel boere in die omgewing reeds jare daarmee.
In 2018 is vyf mense in hegtenis geneem nadat boere van Steynsrus en Senekal hulle op heterdaad betrap het. Sestien skaapkarkasse is destyds glo in die kattebak van ’n voertuig gevind nadat die vermeende veediewe op 8 Januarie 2018 vasgetrek is.
Die vyf verdagtes het bestaan uit ’n laerskoolonderwyseres, haar man wat as tronkbewaarder gewerk het, en drie ander mans. Die skape het glo aan Sylvanus Watson behoort.
Boere in die gebied het destyds reeds kommer uitgespreek oor herhaalde veediefstal en die slagting van vee.
Volgens Niekie Grobler, destyds ’n veiligheidsverteenwoordiger van Vrystaat Landbou in die omgewing, het talle boere selfs opgehou om met skape te boer nadat hulle te veel verliese weens veediefstal gely het.