Lede van die parlementêre portefeuljekomitee oor Sport, Kuns en Kultuur het minister Gayton McKenzie en sy departement skerp gekritiseer nadat hulle nie ‘n volledige finansiële verslag oor die sowat R31 miljoen wat aan die onlangse Fifa-Wêreldbekertoernooi bestee is, aan die komitee voorgelê het nie.
McKenzie en amptenare van die Departement van Sport, Kuns en Kultuur het Dinsdag voor die komitee verskyn om rekenskap te gee van die uitgawes vir die afvaardiging wat die toernooi in die Verenigde State, Mexiko en Kanada bygewoon het.
Parlementslede het egter hul ontevredenheid uitgespreek nadat die departement slegs ‘n algemene oorsig aangebied het, sonder ‘n gedetailleerde uiteensetting van hoe die geld bestee is of waarom 151 persone deel van die afvaardiging was.
Die voorsitter van die komitee, Joe McGluwa, het gesê die komitee se toesigrol word ondermyn wanneer basiese finansiële inligting nie verskaf word nie.
“Die belangrikste inligting wat ons as portefeuljekomitee nodig het, is hoe die geld bestee is. Ons het ‘n algemene aanbieding sonder finansiële besonderhede ontvang. Dit is nie toesig nie; dit is ‘n mors van die komitee en die Parlement se tyd,” het McGluwa gesê.
Komiteelid Leah Potgieter het ook vrae geopper oor die finansiering van die reis. Volgens Potgieter is die bewering gemaak dat die geld uit ander programme binne die departement se begroting verskuif is.
Die departement het gesê ‘n volledige finansiële verslag sal eers ingedien word nadat die finale rekonsiliasie van alle uitgawes vir die Wêreldbekertoernooi afgehandel is.
Die Demokratiese Alliansie (DA) het McKenzie intussen daarvan beskuldig dat hy versuim het om behoorlik teenoor die Parlement rekenskap van die uitgawes te gee.