Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het Suid-Afrika se 2026-plaaslike verkiesing as vry en regverdig verklaar, ondanks verskeie veiligheids- en logistieke voorvalle wat veral in KwaZulu-Natal aangemeld is.
OVK-voorsitter Mosotho Moepya het Sondagaand gesê die verkiesing is oor die algemeen in ’n vreedsame omgewing afgehandel en dat die kommissie tevrede is dat die uitslag aan die vereistes van ’n vrye en regverdige verkiesing voldoen.
Volgens die 2026-verkiesingstevredenheidsopname het 90% van die ondervraagde kiesers die verkiesingsprosedures as vry beskou en 91% as regverdig. Sowat 95% was tevrede met die OVK se diens, terwyl 81% gesê het hulle vertrou die kommissie.
Die verkiesing was egter nie sonder probleme nie.
In KwaZulu-Natal is ongebruikte stembriewe en ’n amptelike sekuriteitstempel by Mnyameni Secondary School in eThekwini gesteel. Die OVK het gesê die gesteelde stempel kon van die stempels wat op verkiesingsdag gebruik is onderskei word en dat maatreëls ingestel is om te keer dat enige van die gesteelde stembriewe by die telling ingesluit word.
By Dassenhoek Library in Mariannhill, wes van Durban, het ondersteuners van een van die deelnemende politieke partye ’n OVK-stoorfasiliteit binnegegaan en amptenare verhinder om verkiesingsmateriaal te vervoer. Die polisie se openbare-orde-eenheid moes ingryp om orde te herstel.
Die OVK het nie aangedui dat verkiesingsmateriaal by dié fasiliteit beskadig is nie.
Die voorval het bedrywighede by twee stemlokale geraak, terwyl twee ander stemlokale in Umzumbe weens paaie wat deur swaar reën weggespoel is, tydelik nie kon oopmaak nie.
Die OVK het ook veiligheidsmaatreëls by sy stoorfasiliteite in die provinsie verskerp nadat groepe by fasiliteite in Richmond, uMkhambathini en Pietermaritzburg saamgetrek het.
Nog ’n ernstige voorval het in Douglas in die Noord-Kaap plaasgevind, waar politieke aktiviste na bewering ’n stemlokaal bestorm en stembriewe vernietig het voordat dit getel kon word. Die OVK het gelas dat daar by dié stemlokaal weer gestem moet word.
Ondanks dié voorvalle het Moepya gesê die verkiesing het oor die algemeen vreedsaam verloop. Sowat 14,9 miljoen van die 29,2 miljoen geregistreerde kiesers het gestem, wat ’n kiesersopkoms van 52% beteken. Dit is 6,1 persentasiepunte hoër as in die 2021-plaaslike verkiesing.
Teen Sondagoggend het die OVK 197 besware ontvang. Sommige politieke partye het ook aangedui dat hulle moontlik die howe sal nader.
Die OVK hou egter vol dat die nodige prosedures gevolg is en het die verkiesing amptelik as vry en regverdig verklaar.