Die Verenigde State het die visum van Brasilië se ambassadeur in Washington, Maria Luiza Ribeiro Viotti, teruggetrek in ‘n verdere verskerping van diplomatieke spanning te midde van Brasilië se verkiesing.
Volgens ‘n Amerikaanse amptenaar volg die besluit nadat Brasilië verlede maand visums geweier het aan twee Amerikaanse amptenare wat die land wou besoek.
Die Brasiliaanse president, Luiz Inácio Lula da Silva, het die twee amptenare daarvan beskuldig dat hulle by Brasilië se verkiesing wou inmeng. Die VSA het dié bewering as “ongegrond” bestempel.
‘n Woordvoerder van die Amerikaanse departement van buitelandse sake het gesê die terugtrekking van Viotti se visum is ‘n “wederkerige optrede” en beteken nie dat sy uit die Verenigde State geskors word nie.
Die Amerikaanse departement het gesê hy het Brasilië oor ‘n tydperk van weke herhaaldelik versoek om die saak op te los, maar dat die Brasiliaanse regering die proses volgens hom vertraag het. Die departement het bygevoeg dat verdere diplomatieke stappe steeds oorweeg word.
Die jongste stap volg op ‘n reeks diplomatieke geskille tussen Washington en Brasília, nadat die VSA onlangs weer invoertariewe op Brasiliaanse produkte ingestel en Brasiliaanse misdaadbendes as terreurorganisasies aangewys het.
Die Brasiliaanse regering het die Amerikaanse motivering vir die terugtrekking van Viotti se visum as “vals” verwerp.
Die twee Amerikaanse amptenare sou Brasilië einde Julie besoek om onder meer gesprekke oor vryheid van spraak, godsdiensvryheid en verkiesingsintegriteit te voer. Hulle sou ook na verwagting die regse presidentskandidaat Flávio Bolsonaro, seun van die voormalige president Jair Bolsonaro, ontmoet.
Jair Bolsonaro dien tans ‘n gevangenisstraf van 27 jaar uit nadat hy skuldig bevind is aan ‘n komplot om ‘n staatsgreep te pleeg ná sy verkiesingsnederlaag.
Brasilië het egter die visums van die Amerikaanse afvaardiging geweier uit kommer dat hulle ongegronde twyfel oor die land se verkiesing sou probeer saai.
Die Brasiliaanse regering het die beplande besoek as “‘n onaanvaarbare poging om by die land se binnelandse politieke proses in te meng” beskryf.
Die Brasiliaanse Hoër Verkiesingshof het Flávio Bolsonaro se bewerings oor die land se elektroniese stemstelsel verwerp. Die hof en ander kenners beskryf Brasilië se elektroniese verkiesingstelsel as een van die veiligste ter wêreld.
Intussen hou Brasilië ook steeds goedkeuring terug vir die benoeming van Daniel Perez, president Donald Trump se keuse as nuwe Amerikaanse ambassadeur in Brasilië.
Lula het die afgelope maande in die openbaar toenemend kritiek uitgespreek op die Amerikaanse departement van buitelandse sake se betrokkenheid by die politiek van Latyns-Amerika, insluitend sy steun aan konserwatiewe kandidate in sommige verkiesings.