Amerikaanse magte het Maandag aanvalle uitgevoer op missielbasisse in suidelike Iran, asook op bote wat glo besig was om seemyne te plaas. Volgens die Amerikaanse Sentrale Kommando plaas die aanvalle ‘n brose skietstilstand onder groot druk en skep dit nuwe twyfel oor ‘n moontlike vredesooreenkoms in die Midde-Ooste.
Die aanvalle het plaasgevind terwyl senior Iranse onderhandelaars in Doha, Katar, aangekom het vir nuwe gesprekke om die maande lange konflik te beëindig. Intussen het Israel ook sy aanvalle teen die Iran-gesteunde Hezbollah in suidelike Libanon verskerp.
Oliepryse het ná die aanvalle skerp gewissel. Kenners waarsku dat die jongste spanning enige ooreenkoms om die Straat van Hormuz te heropen kan bedreig. Iran se blokkade van dié belangrike seestraat het reeds wêreldwye brandstofvoorrade ontwrig.
“Amerikaanse magte het vandag selfverdedigingsaanvalle in suidelike Iran uitgevoer om ons troepe teen bedreigings van Iranse magte te beskerm,” het Tim Hawkins, woordvoerder van die Amerikaanse Sentrale Kommando, gesê.
Die VSA het nie verdere besonderhede oor die aanvalle bekend gemaak nie, maar het bevestig dat die teikens missiellanseringsplekke en bote ingesluit het wat glo myne wou plaas.
Ten spyte van die aanvalle sê die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, dat ‘n ooreenkoms steeds moontlik is.
“Daar was vandag gesprekke in Katar en ons hoop daar kan nog vordering gemaak word. Daar word steeds oor sekere dele van die dokument onderhandel, daarom kan dit nog ‘n paar dae neem,” het Rubio tydens ‘n besoek aan Indië gesê.
Hy het egter beklemtoon dat die Straat van Hormuz weer oopgestel moet word.
“Wat daar gebeur is onwettig, onaanvaarbaar en onvolhoubaar vir die wêreld,” het Rubio gesê.
Iran se staatsuitsaaier, IRIB, het berig dat verskeie harde ontploffings naby die hawestad Bandar Abbas gehoor is. Volgens die uitsaaier was die situasie in die stad egter onder beheer en ondersoek owerhede die oorsaak van die ontploffings.
Die aanvalle bedreig die skietstilstand wat op 8 April begin het, terwyl Amerika en Iran steeds probeer om ‘n ooreenkoms te bereik om die oorlog te beëindig. Die konflik het reeds wêreldmarkte ontwrig en groot druk op energievoorrade geplaas.
Oliepryse het Dinsdagoggend steeds onder 100 dollar per vat gebly, hoewel pryse sterk gewissel het.
Die hoop op ‘n vredesooreenkoms het verder verswak nadat die Israeliese eerste minister, Benjamin Netanyahu, belowe het om Hezbollah in Libanon te “verpletter”. Iran dring daarop aan dat enige vredesooreenkoms ook die konflik in Libanon moet insluit.
President Donald Trump het intussen gesê hy verwag dat Iran sy verrykte uraan aan die Verenigde State moet oorhandig vir vernietiging, of dat dit onder internasionale toesig in Iran self vernietig moet word.
Trump het ook gesê dat lande soos Saoedi-Arabië, die Verenigde Arabiese Emirate, Katar, Pakistan, Egipte, Turkye, Bahrein en Jordanië volgens hom deel van die Abraham-ooreenkomste moet word as deel van ‘n moontlike vredesooreenkoms met Iran.
Die Abraham-ooreenkomste is in 2020 bemiddel om verhoudinge tussen Israel en verskeie Arabiese lande te normaliseer.