CARACAS – ‘n Driejarige seuntjie is ses dae nadat verwoestende aardbewings Venezuela getref het, lewend uit die puin gered.
Die kind, Klieber Morán, is deur ‘n Jordaanse reddingspan in die swaar getrefde deelstaat La Guaira gevind. Hy het noodbehandeling op die toneel ontvang voordat hy na ‘n hospitaal in die hoofstad, Caracas, geneem is. Volgens owerhede is sy toestand stabiel.
Waarnemende president Delcy Rodríguez het die redding as “‘n bron van hoop vir ons mense” beskryf.
Die redding kom lank ná die eerste 72 uur ná ‘n aardbewing, die tydperk waarin mense wat onder puin vasgekeer is, gewoonlik die beste kans het om lewend gevind te word.
Intussen het die dodetal ná verlede week se aardbewings met magnitudes van 7,2 en 7,5 tot 1 943 gestyg. Meer as 10 000 mense is beseer, terwyl tienduisende steeds vermis word.
Volgens ‘n voorlopige ontleding van satellietdata deur Nasa is sowat 58 870 geboue beskadig of heeltemal vernietig.
Die Verenigde Nasies waarsku dat tienduisende oorlewendes dringend kos, skuiling en ander noodleniging benodig.
Die VN se vlugtelingagentskap sê voedseltekorte is wydverspreid, basiese dienste funksioneer nie meer nie en kommunikasie met sommige gebiede is grootliks afgesny. Die organisasie waarsku ook dat spanning in gemeenskappe toeneem omdat hulp nie vinnig genoeg by almal uitkom nie. ‘n Inwoner van La Guaira het gesê hulp word wel uitgedeel, maar dat dit nie genoeg is nie. “Soms is mense byna bereid om mekaar dood te maak vir kos,” het sy gesê.
Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) sê die land se gesondheidsdienste is onder geweldige druk. Die organisasie waarsku verder dat die risiko vir uitbrekings van siektes soos masels en witseerkeel toeneem omdat inentingsvlakke laag is.