Vrystaatse polisiekommissaris lt.genl. Thabang Lesia sê boere wil nie met die polisie saamwerk nie, maar dié bewering kom te midde van boere se klagtes oor gebrekkige polisiehulp en nadat Vrystaat Landbou reeds in April om ingryping oor landelike veiligheid gevra het.
Lesia het Dinsdag op ’n nuuskonferensie gesê daar is reeds strukture waardeur boere probleme met landelike veiligheid met die polisie kan bespreek.
Volgens hom het elke polisiekantoor ’n landelikeveiligheidskoördineerder en word maandelikse landelikeveiligheidsvergaderings op stasie-, distriks- en provinsiale vlak gehou.
Boere vorm volgens Lesia deel van dié strukture en het die kontakbesonderhede van koördineerders, stasiebevelvoerders en polisiekantore.
Sy bewering dat boere nie wil saamwerk nie, kom egter te midde van klagtes van boere dat hulle juis sukkel om hulp van die polisie te kry.
Hulle kla onder meer dat polisiekantore se telefoonlyne nie werk nie, daar nie genoeg voertuie is nie en daar nie genoeg beskikbare personeel is nie.
Dr. Jane Buys, veiligheidshoof van Vrystaat Landbou, sê sy het reeds in April ’n brief aan Lesia gestuur waarin sy hom gevra het om oor probleme met landelike veiligheid in te gryp.
Lesia sê egter hy het dié brief nie ontvang nie.
Buys voer aan dat die huidige situasie ’n toenemende veiligheidslas op boere plaas.
“Die weegskaal het skeefgetrek, want die verantwoordelikheid van beveiliging val al hoe meer op burgers,” sê sy.
Volgens haar is die gebrek aan hulp vir boere onaanvaarbaar.
“Totdat nuwe stelsels deur die polisie in plek gestel word, kan boere nie veilig en volhoubaar boer nie.”
Lesia het Buys se bewerings oor probleme met landelike veiligheid weerspreek en volgehou dat bestaande strukture gebruik kan word om probleme aan te meld en te bespreek.
Die botsende standpunte volg op die onlangse wrede voorval van veediefstal by Steynsrus, waar minstens 20 lammers in die veld gevind is nadat hul kele afgesny is.
Die betrokke boer was só gefrustreerd dat hy die dooie lammers by die Steynsrus-polisiekantoor gaan aflaai het.
Volgens hom is die probleem nie bloot dat daar soms te min polisiehulp beskikbaar is nie. Hy beweer dat daar, selfs wanneer polisielede by ’n toneel opdaag, dikwels nie genoeg mannekrag is om behoorlike speurwerk te doen nie.
Hy beweer verder dat polisielede soms te lui is om uit hul bakkies te klim en verdagtes agterna te sit en in hegtenis te neem.
’n Saak van veediefstal is by die Steynsrus-polisiekantoor geopen en word deur die Heilbron Veediefstal- en Bedreigde Spesies-eenheid ondersoek.
Die polisie doen ’n beroep op enigiemand met inligting wat met die ondersoek kan help om adjudant-offisier Henry Greeff by 082 627 7577 te kontak.
Inligting kan ook anoniem deur die MySAPS-toepassing verskaf word of by Crime Stop by 08600 10111 aangemeld word.