Meer as ‘n maand nadat swaar vloede groot skade aan Meiringspoort aangerig het, sukkel die gemeenskap van De Rust steeds met die gevolge. Boere, toerisme-ondernemings en plaaslike besighede sê die sluiting van die bekende bergpas raak feitlik elke deel van die plaaslike ekonomie, al meen sommige inwoners die stilte in die poort het ook ‘n besondere geleentheid geskep om die natuur opnuut te waardeer.
Louwrens Storm, verkoops- en bemarkingsbestuurder van De Rustica-olyflandgoed en voorsitter van die De Rust-landbouvereniging, sê hoewel produsente steeds hul produkte na markte in die rigting van Kaapstad kan vervoer, is die afname in besoekers ‘n groot terugslag vir ondernemings soos restaurante, winkels en toerismebedrywighede.
Volgens hom het sakebedrywighede in die omgewing met tussen 70% en 80% afgeneem sedert Meiringspoort gesluit is.
Die sluiting beteken ook dat motoriste wat voorheen die sowat 25 km lange roete na Prins Albert gebruik het, nou ‘n ompad van ongeveer 325 km moet ry. Dit verhoog vervoerkoste en maak daaglikse bedrywighede aansienlik moeiliker.
“Die gebrek aan verkeer deur die poort het ‘n groot impak op die plaaslike jagbedryf. Die lang ompad verhoog vervoerkoste. Daar is ook boere in die poort wat lank nie krag gehad het nie.”
Boere wat binne die poort woon, was vir ‘n tyd lank feitlik van die buitewêreld afgesny nadat dele van die pad weggespoel het. Hulle gebruik tans ‘n enkelspoor-grondpad om hul plase te bereik.
Die sluiting het ook ‘n invloed op jaarlikse sport- en toerismegeleenthede gehad. Die Meiringspoort Challenge-bergloop is gekanselleer, terwyl die Meiringspoort-marathon tot Oktober uitgestel is.
“Ons moes die roete vir die Meiringspoort-marathon aanpas. Die Meiringspoort Challenge is gewoonlik ‘n groot ekonomiese inspuiting vir Oudtshoorn en die omliggende omgewing. Ons kan nie bekostig om nóg ‘n groot gebeurtenis en geleentheid vir besigheid mis te loop nie.”
Storm sê die situasie word verder vererger deur die sluiting van die R328 na die Kango-grotte, wat volgens hom die aantal besoekers aan Oudtshoorn en De Rust verder beperk.
Volgens die Wes-Kaapse regering is die herstel van Meiringspoort die grootste herstelprojek wat ná die onlangse vloede aangepak sal word. Die skade word op sowat R421 miljoen geraam en dit kan jare duur voordat die pas weer ten volle oop is.
Intussen probeer inwoners en sakeondernemings nuwe maniere vind om besoekers na De Rust te lok. Plaaslike toerismeprojekte, potjiekoskompetisies en ander inisiatiewe word aangebied om die dorp lewendig te hou.
“Dit was nou maar ‘n lekker dag hier en ‘n reënerige dag aan die ander kant van die wêreld. Dan kom die mense.”
Volgens Storm gebruik ondernemings ook die rustiger tyd om verbeterings aan hul gastehuise, restaurante en ander fasiliteite aan te bring.
Vir boere bly die heropening van Meiringspoort egter noodsaaklik. Celia le Roux van Domein Doornkraal sê die pas is die belangrikste roete vir landboubedrywighede na George en Mosselbaai.
“Dit is die vinnigste roete vir boere om in George en Mosselbaai te kom, of vir boere van Oudtshoorn om hul volstruise by die abattoir te kry, of vir mense om hul diere by die veiling te kry.”
Volgens haar maak die lang ompad nie net reise meer tydrowend nie, maar verhoog dit ook vervoerkoste aansienlik.
Vir sommige inwoners het die sluiting van Meiringspoort egter ook ‘n onverwagse positiewe kant.
Kathryn Eybers van Numbi Valley, ‘n permakultuur- en gasteplaas sowat 12 km buite De Rust, sê die afwesigheid van verkeer het die poort se besondere atmosfeer laat herleef.
“Ons is die eerste mense wat in die pas gaan stap het en het al vier keer in die poort gaan stap. Drie groepe gaste het al spesifiek by ons kom bly om in die poort te gaan stap. Die sand is vol dierspore – krimpvarkies, otters, muishonde. Ons het selfs die spoor van ‘n groot luiperd gesien.”
Volgens Eybers het Meiringspoort nou ‘n bestemming op sy eie geword waar besoekers die natuur sonder die geraas van swaar verkeer kan beleef.
“Meiringspoort is ‘n ongelooflike plek, waarskynlik een van die mooiste plekke in Suid-Afrika. Almal wat al by ons kom bly en daar gaan stap het, sê ook so.”
Sy sê dit is vir haar ‘n verligting om die poort sonder die voortdurende geraas en vibrasie van vragmotors te ervaar.
“Dit was gewoonlik nie maklik om van daardie geraas af weg te kom nie.”
Eybers meen die vloed het ook gewys hoe die water sy natuurlike pad deur die poort probeer terugvind, selfs op plekke waar Thomas Bain tussen 1856 en 1858 die oorspronklike roete uitgelê het.
“Voor die vloede in Mei moes die pas al drie keer vanjaar herstel word. Miskien is dit tyd om die roete te heroorweeg,” meen sy.