’n Trommel vol ou boeke en dokumente wat vir byna ’n eeu op die plaas Uitkyk buite Wesselsbron bewaar gebly het, het nou sy weg na mense en instellings gevind wat die geskiedkundige materiaal verder kan bewaar.
Gert Coetzee, wat die trommel ontdek het, het amper al die boeke aan die Akademie vir Wetenskap en Kuns in Pretoria geskenk.
Een belangrike dokument het egter ’n ander bestemming gekry. ’n Afskrif van die Governments Courant van den Oranje-Vrijstaat, wat direk met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog verband hou, is aan die geskiedkundige en skrywer dr. Louis Bothma geskenk.
Die uitgawe van 1 Desember 1899 bevat ’n oproep deur hoofkommandant Jan Hendrik Olivier van die Rouxville-kommando aan inwoners van die distrik om hulle vir kommandodiens aan te meld.
Olivier sou kort daarna in ’n belangrike veldslag betrokke wees. Hy was in bevel van die Boeremagte tydens die Slag van Stormberg in Desember 1899 in die Oos-Kaap. Daarna het hy saam met genl. Christiaan de Wet in die Oos-Vrystaat en Brandwater-gebied geveg.
Nadat Olivier en De Wet later stry gekry het, het hy probeer om hom by die Transvaalse magte aan te sluit. Hy is onderweg gevange geneem en saam met drie van sy seuns as Boerekrygsgevangenes na Ceylon verban.
Woordeboek uit 1824
Die oudste boek wat tussen die inhoud gevind is, is J. Holtrop se Nederduitsch en Engelsch Woordenboek van 1824.
Daar was ook ander woordeboeke, godsdienstige boeke en bladmusiek in die trommel. Van die materiaal is na raming sowat 200 jaar oud.
Nog ’n besondere item is ’n gedenkuitgawe van Die Volksblad uit 1938 wat die Voortrekker-eeufees herdenk. Die vorige eienaar van Uitkyk het dié uitgawe sowat 87 jaar gelede gekoop en bewaar.
Die materiaal wat na die Akademie gegaan het, kan nog nie onmiddellik in die boekery opgeneem word nie.
Volgens Brink word die trommel en boeke voorlopig in kwarantyn gehou sodat die Akademie se museumkundige dit kan skoonmaak. Jare se stof het daarop versamel en daar is ook muf, wat beteken dat die materiaal eers behandel moet word.
Coetzee sê hy glo die boeke is nou in die regte hande en dat die geskiedenis daaragter waardeer kan word.