Winterstorm Kuilvoer gaan voortaan 1,5 ton kuilvoer per maand, of volgens behoefte, aan die Kultuurtuiste se diere skenk.

Die onderneming het die verbintenis tydens ’n besoek aan die Kultuurtuiste bekend gemaak. Die skenking sal help met die versorging van die diere te midde van toenemende voer- en instandhoudingskoste.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Kultuurtuiste, het die skenking as ’n betekenisvolle belegging in die volhoubaarheid van die Voortrekkermonument en Natuurreservaat én sy dierewelsynsprogram beskryf.

“Hierdie ruim gebaar van Winterstorm Kuilvoer beteken vir ons ongelooflik baie,” het Langner gesê.

Volgens hom speel die diere wat deel van die Kultuurtuiste se leefwêreld vorm ’n belangrike rol in die bewaring en uitbeelding van kultuurerfenis.

“Met Winterstorm se verbintenis van 1,5 ton kuilvoer per maand kry ons nie net gehaltevoeding vir ons diere nie, maar ook die gemoedsrus dat ons ons natuurerfenis op ’n verantwoordelike en volhoubare wyse kan bestuur.”

Familieonderneming raak betrokke

Winterstorm Investments is sedert 2004 ’n familieonderneming in Noordwes en bemark sedert 2007 kuilvoer op kommersiële grondslag. Die onderneming het in 2018 sy vakuumverpakte kuilvoer in 31,25 kg-sakke bekendgestel.

Volgens Winterstorm het die onderneming sedertdien tot ’n markleier in kleinverpakking-kuilvoer in Suider-Afrika ontwikkel.

Marcu van Rensburg, eienaar van Winterstorm Kuilvoer, sê die onderneming beskou sy betrokkenheid as meer as bloot ’n voerskenking.

“By Winterstorm glo ons dat sukses nie net gemeet word aan die produkte wat ons verkoop nie, maar ook aan die verskil wat ons in gemeenskappe maak.”

Voer vir verskillende diere

Die kuilvoer bestaan hoofsaaklik uit soetvoersorghum. Volgens Winterstorm word mielies saam met die sorghum aangeplant om die voedingswaarde verder te verbeter.

Van Rensburg sê die voer bied ’n balans tussen vesel, energie en oplosbare koolhidrate en ondersteun gesonde rumenfunksie. Dit kan volgens hom aan onder meer beeste, skape, bokke, perde en ander herbivore gevoer word.

Die kuilvoer word volledig gefermenteer voordat dit vakuumverpak en lugdig verseël word. Volgens Winterstorm beskerm dié proses die voer teen suurstof en bederf en help dit om die voedingswaarde te behou totdat die verpakking oopgemaak word.

Die onderneming sê sy produksieproses word deur AgSci Unlimited geoudit en beskryf homself as die enigste kuilvoervervaardiger in Suider-Afrika met ’n volledig onafhanklik geouditeerde produksieketting.

Kultuurprogram vir besoekers

Die bekendmaking van die skenking het deel gevorm van ’n besoek waartydens die gaste ook meer oor die Kultuurtuiste se geskiedenis en werk kon leer.

Hulle het die Toekomsbou Museumteater en die Monument besoek voordat die dag met ’n middagete afgesluit is. Daar is ook oor toekomstige samewerking tussen Winterstorm en die Kultuurtuiste gesels.

Langner sê die Kultuurtuiste is dankbaar vir Winterstorm se ondersteuning en sien uit na ’n lang en betekenisvolle vennootskap.