Motorfietsryers en ander ondersteuners gaan op 6 Desember op verskeie plekke in Suid-Afrika saamtrek vir ’n landwye bewusmakingsrit oor plaasaanvalle en landelike veiligheid.

Die Nasionale Motorfietsrit teen Plaasaanvalle is deur David en Lientjie Swanepoel begin, met Biker Hart Radio as mediavennoot. TLU SA het intussen aangekondig dat hy die inisiatief steun en self in Pretoria aan die rit sal deelneem.

Plaaslike koördineerders reël byeenkomste en konvooie in verskeie provinsies.

Motorfietsryers, klubs, gesinne en ander belangstellendes kan deelneem. Motoriste word ook genooi om agter die motorfietskonvooie aan te sluit.

Mauritz Lombard, TLU SA se bestuurder van beleidskakeling, sê die organisasie waardeer enige poging om die werklikheid van plaasaanvalle sigbaar te maak.

“Ons het groot waardering vir elke persoon en organisasie wat die harde werklikheid van plaasaanvalle in Suid-Afrika sigbaar maak. Dit is ’n werklikheid wat nie geïgnoreer of as bloot nog ’n misdaadsyfer afgemaak mag word nie,” sê Lombard.

Volgens hom is die rit bedoel as ’n sigbare gebaar van ondersteuning aan boere en landelike gemeenskappe.

“Hierdie gaan nie oor politieke partye of persoonlike belange nie. Dit gaan daaroor om saam met boere te staan en die wêreld bewus te maak van die veiligheidskrisis waarmee landelike gemeenskappe te kampe het. Elke deelnemer help om hierdie boodskap verder uit te dra,” sê hy.

TLU SA se eie span sal onder leiding van Lombard aan die Pretoria-rit deelneem.

Die organiseerders sê die geleentheid moet vreedsaam en ordelik verloop. Deelnemers word gevra om plaaslike reëls en die instruksies van koördineerders te volg.

Volgens TLU SA se eie voorvalregister is 27 plaasmoorde teen 7 Oktober vanjaar aangeteken. Die organisasie het 23 vir die hele 2025 aangeteken.

TLU SA sê dié syfers wys waarom landelike veiligheid groter openbare aandag verg.

Persone wat meer inligting oor die rit of plaaslike byeenkomste verlang, kan vir Mauritz Lombard by TLU SA kontak.