Die Springbokke verwag ’n intense stryd teen Frankryk wanneer die twee spanne Vrydagaand in die Nations Championship op die Stade de France in Saint-Denis kragte meet.

Assistent-afrigter Felix Jones en haker Malcolm Marx sê die nederlaag van 2023 kan moontlik steeds ’n rol speel wanneer die twee spanne weer teen mekaar te staan kom.

Suid-Afrika het dié wedstryd met 29-28 gewen en Frankryk uit sy tuis-Wêreldbeker geklop.

Jones sê die moontlikheid dat die Franse steeds op “wraak” uit is, kan nie uitgesluit word nie.

“Dit was so ’n belangrike wedstryd dat ek nie dink dit verdwyn maklik nie,” het Jones gesê. Hy meen die spanning sal hoofsaaklik op die veld sigbaar wees, waar albei spanne desperaat sal wees om te wen.

Marx stem saam dat die 2023-nederlaag steeds ’n rol kan speel.

“Ons het ’n paar noue oorwinnings teen hulle gehad, en in 2023 het hulle natuurlik gevoel hulle moes in die Wêreldbeker-eindstryd gewees het. Dit laat ’n letsel,” het hy gesê.

Volgens Marx kan die Bokke egter net beheer hoe hulle self voorberei en die wedstryd benader.

Jones verwag ook dat Frankryk met nuwe taktiese planne vorendag kan kom. Hy sê die Franse het Suid-Afrika voorheen met aanvallende skoppe en ruimte agter die verdedigingslyn onder druk geplaas en dat die Bokke voorbereid moet wees op taktiese variasies wat hulle nog nie gesien het nie.

Volgens hom is wedstryde tussen die twee lande tradisioneel fisiek en uiters mededingend, met groot botsings en sterk taktiese gevegte.

Marx het intussen enige ekstra druk ná sy individuele toekennings afgemaak en gesê vorige prestasies tel min wanneer ’n nuwe toetswedstryd voorlê.

“Ek kan nie staatmaak op wat ek verlede jaar of die jaar voor dit gedoen het om my nou deur te dra nie,” het hy gesê.

Hy het bygevoeg dat elke speler in die Springbokgroep dieselfde behandel word, ongeag vorige prestasies of toekennings.

Marx het ook bevestig dat sy besluit om by die Bulls aan te sluit hoofsaaklik deur sy familie beïnvloed is.

“Ek was nou al jare weg van die huis af, en om terug te kom was basies om meer tyd saam met hulle deur te bring,” het hy gesê.

Die wedstryd tussen Frankryk en Suid-Afrika begin Vrydag om 22:10 Suid-Afrikaanse tyd en word op SuperSport uitgesaai.