PRETORIA – Suid-Afrika is as die vriendelikste land ter wêreld aangewys in ‘n internasionale studie wat mense se vriendelikheid en openheid teenoor ander gemeet het.
Die studie is deur die wêreldwye finansiëlediensteverskaffer Remitly uitgevoer. Meer as 3 000 deelnemers uit 27 lande het aan die navorsing deelgeneem, wat die aangenaamheidskomponent van die Groot Vyf Persoonlikheidstoets gebruik het om mense se houding teenoor ander te beoordeel.
Suid-Afrika het die hoogste telling van 34,63 uit 40 behaal en daarmee lande soos Griekeland, Kroasië, Mexiko en Swede verbygesteek.
Navorsers het deelnemers geëvalueer op eienskappe soos hul besorgdheid oor ander mense, bereidwilligheid om hulp te verleen en hul vermoë om ander op hul gemak te laat voel. Die resultate dui daarop dat Suid-Afrikaners oor die algemeen hoog presteer wanneer dit by gasvryheid, vriendelikheid en sosiale betrokkenheid kom.
Volgens Remitly is Suid-Afrika se aantrekkingskrag egter nie net aan sy inwoners se vriendelikheid te danke nie. Die studie wys daarop dat die land se bekostigbare leefkoste, indrukwekkende natuurskoon en ryke kulturele erfenis ook bydra tot die positiewe ervaring van besoekers.
Die navorsers het verder Suid-Afrika se 11 amptelike tale as ‘n voorbeeld van sy kulturele en taalkundige diversiteit uitgelig. Hierdie verskeidenheid, tesame met die land se uiteenlopende gemeenskappe en tradisies, dra volgens die studie by tot ‘n verwelkomende atmosfeer.
Hoewel Suid-Afrika dikwels internasionaal opslae maak weens uitdagings soos misdaad, werkloosheid en swak ekonomiese groei, wys die studie dat mense steeds die land se vriendelikheid raaksien. Boer24 wonder egter hoe hierdie beeld strook met die daaglikse werklikheid van baie Suid-Afrikaners wat met geweldsmisdaad, armoede en ‘n sukkelende ekonomie saamleef.