PRETORIA – Die VF Plus meen die Suid-Afrikaanse regering se hantering van sy buitelandse beleid plaas die land se verhouding met die Verenigde State verder onder druk. Dit volg nadat Brent Bozell, die VSA se ambassadeur in Suid-Afrika, die ANC-regering skerp gekritiseer het oor wat hy as sogenaamde “onverbondenheid” beskryf.
Bozell het op die sosialemediaplatform X aangevoer dat Suid-Afrika se optrede nie met sy verklaarde beleid van onverbondenheid strook nie. Hy het onder meer verwys na die ontvangs van Iran se adjunkminister van Buitelandse Sake en adjunkpresident Paul Mashatile se besoek aan China om samewerking tussen die twee lande te bevorder.
“Suid-Afrika noem dit onverbondenheid. Ons noem dit wat dit is: ’n keuse. Suid-Afrikaners verdien ’n eerlike gesprek oor wie hul regering kies om mee te belyn.”
Hy het verder gesê:
“Suid-Afrika kan nie die mantel van onverbondenheid opeis terwyl hy aktief by Amerika se teenstanders vlerksleep nie. Dit is keuses, en dit spreek vanself.”
Die leier van die VF Plus, dr. Corné Mulder, sê die Amerikaanse ambassadeur se uitlatings bevestig die party se waarskuwing dat die regering se buitelandse beleid ernstige gevolge vir Suid-Afrika se internasionale betrekkinge kan inhou.
Volgens Mulder het die VF Plus reeds ‘n jaar gelede tydens ‘n besoek aan Washington en die Withuis vyf voorwaardes aan Amerikaanse besluitnemers voorgelê wat volgens hulle noodsaaklik is vir die herstel van normale diplomatieke betrekkinge tussen die twee lande.
Hy voer aan dat dié voorstelle aan die Suid-Afrikaanse regering oorgedra is, maar dat daar geen daadwerklike reaksie gevolg het nie.
“Dit is gedoen, maar daar is geen ag op geslaan nie. Die ANC, wat Suid-Afrika se buitelandse beleid as hoofsaaklik sy eie domein beskou, het voortgegaan asof die VSA se versoeke nie bestaan nie.”
Mulder meen onlangse gebeure toon dat Washington steeds die aangeleentheid ernstig opneem.
“Dit het geboemerang. ’n Week gelede het Amerika sy Pepfar-mediese befondsing aan Suid-Afrika direk hieroor opgeskort. Die VSA se ambassadeur het ook nog ’n waarskuwingskoot oor die boeg gevuur,” het Mulder gesê.
Die VF Plus sê die vyf kernkwessies wat volgens die party aangespreek moet word, sluit die Onteieningswet, swart ekonomiese bemagtiging (SEB), haatspraak rondom die lied Kill the Boer, plaasmoorde en ‘n hersiening van Suid-Afrika se buitelandse beleid in.
Volgens Mulder is die opskorting van sowat R8 miljard se Pepfar-befondsing nie ‘n afsonderlike besluit nie, maar deel van ‘n breër herevaluering van die verhouding tussen die Verenigde State en Suid-Afrika.
“Washington het duidelik nie vergeet van die voorwaardes wat gestel is nie, ten spyte van die ANC se traak-my-nieagtige houding in die waarskynlike hoop dat dit dalk mettertyd sal verdwyn of dat dit net leë dreigemente aan die VSA se kant is.”
Hy sê inligting wat aan die Amerikaanse Kongres voorgelê is, dui daarop dat die Pepfar-besluit deel vorm van ‘n groter strategiese beoordeling van die bilaterale verhouding.
“Dit is ook benadruk dat die kansellering van die befondsing gesien moet word as ’n strategiese sein wat die verhouding tussen die lande betref.”
Mulder glo die kwessie strek veel verder as gesondheidsbefondsing alleen.
“Soos die onverbondenheid wat buitelandse betrekkinge betref, gaan dit hier oor breër en algemene bilaterale beleidskwessies tussen die lande eerder as afsonderlike aspekte daarvan.”
Hy sê dit is betreurenswaardig dat die ANC volgens hom nie van die geleentheid gebruik maak om die verhouding met Washington te herstel nie.
“Daar kan nie verder hieroor voete gesleep word nie en die regering sal dit met die nodige erns moet benader. Amerika se vereistes sal teruggeplaas moet word op die nasionale agenda.”
Mulder waarsku dat gewone Suid-Afrikaners uiteindelik die grootste prys kan betaal indien die diplomatieke spanning voortduur.
“Wat die kansellering van die Pepfar-befondsing betref, sal die ANC die verantwoordelikheid moet aanvaar vir die lyding en lewensverlies wat mag voortspruit uit die gebrek aan lewensbelangrike mediese hulp.”