Een persoon is dood en 89 ander beseer nadat twee passasierstreine Vrydagmiddag naby Bedford in Engeland gebots het.
Die ongeluk het kort ná 17:00 plaaslike tyd plaasgevind toe twee treine van East Midlands Railway op dieselfde spoorlyn in botsing gekom het.
Volgens owerhede het een van die treine stilgestaan toe die tweede trein daarin vasgery het.
Die bestuurder van een van die treine is in die botsing dood. Van die beseerdes het 11 baie ernstige beserings opgedoen, terwyl nog 22 ernstig beseer is. Die res is met ligter beserings behandel.
Passasiers beskryf die toneel as chaoties.
Een passasier het gesê dit het gevoel asof ’n bom ontplof het. Mense is uit hul sitplekke geslinger en talle het gesig- en kopbeserings opgedoen.
“Daar was bloed oral,” het ’n passasier gesê.
Lugfoto’s van die toneel wys dat die meeste waens op die spoor gebly het, maar dat minstens een wa ontspoor het.
Die betrokke treine was onderweg na Londen vanaf Corby en Nottingham toe die botsing plaasgevind het.
Alle treindienste op die roete is vir die naweek opgeskort terwyl ondersoekers probeer vasstel wat die ongeluk veroorsaak het.
Nooddienste, insluitend lugambulansdienste, is na die toneel ontplooi om beseerdes te behandel en na hospitale te vervoer.
Hospitale in die Bedford-omgewing het die publiek versoek om slegs in noodgevalle hul ongevalle-afdelings te besoek, sodat personeel op die slagoffers van die treinbotsing kan fokus.
’n Formele ondersoek na die oorsaak van die botsing is reeds van stapel gestuur.
Die Britse eerste minister, Keir Starmer, het sy meegevoel met die familie van die oorledene uitgespreek en die nooddienste bedank vir hul vinnige reaksie.