JACOBSDAL – Die Hoër Landbouskool Jacobsdal in die Vrystaat rou oor die skielike afsterwe van die geliefde onderwyser en koshuisvader Jan Louis “Worsman” van der Ryst, wat kort ná sy 36ste verjaardag oorlede is.
Van der Ryst, wat op 14 Julie 36 geword het, is Maandag dood aangetref. Die oorsaak van sy dood is nog nie bekend nie.
Die skoolhoof, dr. Eduard Potgieter, het hom beskryf as ‘n meelewende en besonder presiese mens wat ‘n opregte liefde vir kinders gehad het.
“As jy hom gevra het vir ‘n dokument, het jy dit nog dieselfde dag gekry. Sy werk was sy trots.”
Van der Ryst het hom in 2013 by Landboudal aangesluit as onderwyser in Afrikaans Huistaal en drama. Hy het later ook as koshuisvader gedien en was die skool se woordvoerder.
Hoewel sport nie sy grootste belangstelling was nie, het hy dit geniet om die skool se sportspanne na byeenkomste te vervoer. Hy het selfs ‘n Kode 14-bestuurslisensie verwerf sodat hy die groot busse met sleepwaens kon bestuur.
In ‘n huldeblyk op die skool se Facebook-blad word Van der Ryst beskryf as veel meer as ‘n onderwyser, woordvoerder en koshuisvader.
Volgens die skool was hy “die hartklop en siel van Landboudal” wat die rooi sand van Jacobsdal as die verhoog vir sy lewensroeping gekies het en onuitwisbare spore daar gelaat het.
As koshuisvader was hy vir honderde seuns ‘n veilige hawe. Die skool sê hy het vertroos waar daar verlange was en dissipline met ‘n regverdige en liefdevolle hand toegepas.
As onderwyser het hy volgens die huldeblyk bewys dat die ryk tekstuur van Afrikaans tuishoort tussen die mielielande, die rooi sand en die waterkanale van Landboudal. Met sy agtergrond in drama en teater het hy ook iets besonders na die platteland gebring.
“Hy het vir robuuste boerseuns en skaam plaasmeisies gewys dat daar krag in die kunste lê.”
Die huldeblyk sluit af:
“Mnr. Worsman, die laaste gordyn het vir u op hierdie aarde gesak, maar u finale applous sal nooit ophou weerklink in die gange van Landboudal nie.”