Navorsers wat beplan om oor ’n Afrikaner- of Afrikaansverwante onderwerp te werk, maar finansiële ondersteuning benodig, kan nou aansoek doen om befondsing by die Erfenisstigting (ES) se Navorsingstrust. Die Trust het finansiering vir 2026 beskikbaar gestel en nooi sowel gesoute as aspirantnavorsers om hul voorstelle in te dien.
Volgens dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Kultuurtuiste, speel die Navorsingstrust – wat reeds in 2005 tot stand gekom het – ’n belangrike rol in die bevordering van gevorderde en gehalte-navorsing oor Afrikaner- en Afrikaansverwante onderwerpe.
“Die ES is nie net ’n bewaarder van ons kollektiewe historiese geheue en identiteit nie, maar is verbind tot voortgesette kennisontwikkeling en -verdieping deur middel van deeglike en goed deurdagte navorsingsprojekte. Die Navorsingstrust se mandaat is om navorsing van hoë akademiese gehalte te ondersteun,” sê Langner.
Dr. Wouter van Wyk, voorsitter van die Navorsingstrust, sê die standaard van aansoeke het die afgelope paar jaar merkbaar verbeter. “Ons is opgewonde oor en trots op die waardevolle publikasies wat uit die Trust se finansieringsinisiatiewe voortgespruit het. Voorkeur word gegee aan bekostigbare projekte wat binne ’n redelike tyd tasbare resultate lewer en vir die breër Afrikaanse gemeenskap van waarde kan wees.”
Navorsingsprojekte moet spesifiek op Afrikaner- en/of Afrikaansverwante temas fokus. Projekte wat nie oorweeg sal word nie, sluit fiksie, familiegeskiedenis (behalwe waar genealogie as wetenskaplike studie ter sprake is), kongresstukke en kapitaalprojekte in.
Die kernkriteria vir befondsing is dat projekte aan streng akademiese standaarde moet voldoen en dat die finale navorsingsresultate in Afrikaans beskikbaar gestel moet word.
Lizette Jansen, bestuurder van die ES wat die administrasieproses hanteer, moedig belangstellendes aan om hul aansoeke vroegtydig in te dien. Sy beklemtoon dat die Trust se ondersteuning verder strek as slegs finansiële hulp. “Dit bied aan navorsers ’n waardevolle platform en gesaghebbende stem om ons kultuur, geskiedenis en identiteit vir toekomstige geslagte te help bewaar.”
Aansoeke sluit op 31 Maart 2026 en kan per e-pos gestuur word na lizette@kultuurtuiste.org.za.