Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het waarskuwings uitgereik oor baie koue, nat toestande en sneeuval wat na verwagting vanaf vanaand dele van die Oos-Kaap, suidelike KwaZulu-Natal, die suidelike Vrystaat en gebiede langs die Lesotho-grens sal tref.
Die SAWD het oranje vlak 6- en vlak 5-waarskuwings vir ontwrigtende reën en sneeu uitgereik. Die toestande kan tot oorstromings, padsluitings en diensontwrigtings lei.
Inwoners in die geaffekteerde gebiede word aangeraai om waaksaam te wees en die jongste weeropdaterings dop te hou. Motoriste word versoek om, waar moontlik, gebiede te vermy wat deur swaar reën, sneeu of oorstromings geraak word.
Boere word intussen aangemoedig om die nodige voorsorgmaatreëls te tref.
Die Weerdiens maan die publiek om amptelike waarskuwings te volg en die jongste weeropdaterings dop te hou.