’n Onderwyser van Laerskool Kathu in die Noord-Kaap is Saterdagoggend dood nadat ’n skoolbus en ’n vragmotor op die N14 buite Kuruman gebots het.
Die ongeluk het plaasgevind terwyl die bus onderweg was na ’n sportbyeenkoms in Kuruman. Leerders was ook aan boord, maar volgens die skool is hulle ongedeerd.
Die skoolhoof, Carl du Plessis, het bevestig dat een van die skool se onderwysers in die botsing gesterf het. Die identiteit van die oorledene is nog nie bekend gemaak nie aangesien naasbestaandes moontlik nog nie in kennis gestel is nie.
Verskeie onderwysers en ander personeellede het beserings opgedoen. Sommige is lig beseer, terwyl ander ernstiger beserings opgedoen het. Du Plessis het gesê hy is nie bewus van enige leerders wat beseer is nie.
Volgens die beskikbare inligting het die skoolbus teen die agterkant van ’n vragmotor gebots wat vermoedelik langs die pad naby die Red Sands Country Lodge gestaan het.
Die bus was op pad om rugby- en netbalspelers na Laerskool Seodin te vervoer vir die eindronde van die Van Druten-liga.
Laerskool Kathu het vroeër die oggend op sosiale media bevestig dat een van die skool se busse in ’n ernstige ongeluk betrokke was.
“Ons leerders is ongedeerd. Hou asseblief ons onderwysers, kinders en ouers in jul gebede,” lui die skool se boodskap.
Nooddienste het na die toneel gehaas en die omstandighede rondom die ongeluk word ondersoek.