Suid-Afrika bestee na raming R13 500 per gevangene per maand, volgens die Departement van Korrektiewe Dienste.
Die departement sê die koste kan wissel na gelang van die status van die oortreder – of die persoon op verhoor wag of reeds ’n vonnis uitdien.
Volgens die departement kos aangehoudenes wat nog op verhoor wag gewoonlik minder, omdat hulle nie aan rehabilitasieprogramme deelneem nie. Gevangenes wat reeds skuldig bevind is, word egter by verskeie programme betrek wat daarop gemik is om hul rehabilitasie en herintegrasie in die samelewing te bevorder.
Ten spyte van oorbevolking en toenemende finansiële druk op die korrektiewe stelsel, bly gevangenes se grondwetlike regte van krag. Dit sluit onder meer toegang tot kos, water en mediese sorg in.
Die departement sê hy probeer intussen om koste te verminder deur projekte soos boerdery, werkswinkels en ander produktiewe programme in korrektiewe fasiliteite te ontwikkel.