AfriForum het die akkuraatheid van die jongste veediefstalstatistiek wat deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) bekend gemaak is, bevraagteken.
Volgens die polisie se syfers vir die derde kwartaal van die 2025–2026-boekjaar het veediefstal met 9,6% afgeneem in vergelyking met dieselfde tydperk in 2024. AfriForum sê egter ’n vergelyking met die vorige kwartaal wys dat die situasie moontlik nie verbeter nie.
Die organisasie wys daarop dat aangemelde sake van 6 220 tussen Julie en September tot 6 295 tussen Oktober en Desember 2025 gestyg het.
AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mpumalanga Hoëveld, Hennie Bekker, sê verskeie faktore maak dit moeilik om ’n duidelike prentjie van die probleem te kry. Volgens hom bly onderaanmelding, beperkte polisiehulpbronne en beweerde korrupsie groot uitdagings in die stryd teen veediefstal.
Bekker meen die werklike omvang van veediefstal kan groter wees as wat die amptelike statistiek aandui, en hy het boere aangemoedig om alle voorvalle by die polisie aan te meld sodat die probleem beter aangespreek kan word.