Suid-Afrika se ambassadeur in die Verenigde State, Roelf Meyer, sê hy het reeds met sy eerste dag as parlementslid besef dat die apartheidsbestel onhoudbaar en onregverdig was.
Meyer, ‘n voormalige Nasionale Party-minister en hoofonderhandelaar tydens die grondwetlike onderhandelinge van die vroeë 1990’s, het in ‘n onderhoud teruggekyk op sy politieke loopbaan, sy rol in Suid-Afrika se oorgang na demokrasie en sy aanstelling as ambassadeur in Washington.
Hy sê hy het van kleins af in politiek belanggestel en op 31-jarige ouderdom ‘n aanbod aanvaar om parlementslid te word, ondanks ‘n belowende regsloopbaan.
Volgens Meyer het dit hom getref toe hy vir die eerste keer in die parlement gesit het en besef het die instelling verteenwoordig slegs ‘n klein minderheid van Suid-Afrikaners.
“Wat ons in Suid-Afrika gehad het, was onrealisties, onaanvaarbaar en onregverdig,” het hy gesê.
Meyer sê dié besef het hom gemotiveer om hom vir politieke verandering te beywer. Hy voeg by dat daar ook binne die Nasionale Party toenemende besef was dat apartheid beëindig moes word, en het die voormalige minister van Buitelandse Sake, Pik Botha, uitgesonder as een van die prominente stemme wat openlik vir verandering gepleit het.
As die Nasionale Party se hoofonderhandelaar het Meyer saam met Cyril Ramaphosa, destyds die ANC se hoofonderhandelaar, aan die grondwetlike onderhandelinge deelgeneem.
Hy sê Suid-Afrika was teen die einde van die 1980’s op die rand van ‘n burgeroorlog en dat die onderhandelinge ‘n burgeroorlog voorkom het. Volgens hom het die uiteindelike Grondwet uit moeilike onderhandelinge voortgespruit wat onder meer deur geweld, politieke spanning en verskeie krisisse bedreig is.
Meyer het onder meer verwys na die 1992-referendum onder blanke kiesers, die Boipatong-slagting, die Record of Understanding tussen die ANC en die Nasionale Party, en die sluipmoord op Chris Hani as sleutelmomente wat die onderhandelingsproses beïnvloed het. Volgens hom was die Record of Understanding die deurbraak wat die onderhandelinge weer op koers geplaas het.
Meyer het ook verduidelik hoe hy Suid-Afrika se ambassadeur in die Verenigde State geword het. Hy sê hy het aanvanklik voorgestel dat hy vir drie maande na die VSA reis om die diplomatieke uitdagings te beoordeel en vas te stel waar Suid-Afrika sy betrokkenheid by die VSA kan verbeter.
President Cyril Ramaphosa het hom later egter gevra om die pos permanent te aanvaar.
Meyer sê die versoek was onverwags, maar hy het gevoel hy behoort dit te aanvaar omdat hy self voorgestel het om te help om Suid-Afrika se betrokkenheid by die VSA te verbeter.
Hy het bevestig dat hy reeds sy geloofsbriewe aan die Amerikaanse president, Donald Trump, oorhandig het en dat gesprekke met die Amerikaanse administrasie voortduur oor persepsies wat aangespreek moet word.