KAAPSTAD – Dele van Suid-Afrika se grensheining by Beitbrug bestaan feitlik nie meer nie en die enigste “proaktiewe” afskrikmiddel wat mense daarvan weerhou om onwettig die land binne te kom, is die krokodille in die Limpoporivier.
Só het die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, Dinsdag aan joernaliste in die Parlement gesê nadat hy die afgelope naweek Beitbrug saam met ‘n negelededelegasie besoek het.
“Daar was letterlik op sommige plekke geen grens nie,” het Macpherson gesê.
Hy het die toestand by die grens as “skokkend” beskryf en gesê mense wat die grens onwettig wou oorsteek, het selfs vir die regeringsafvaardiging gewaai. Volgens hom was die enigste rede waarom hulle nie die rivier oorgesteek het nie, die teenwoordigheid van ‘n krokodil in die Limpoporivier.
“Dit was al,” het hy gesê.
Macpherson het gesê sy departement het intussen ‘n sentrum by Beitbrug ingerig om Zimbabwiërs te help wat Suid-Afrika verlaat ná die onlangse betogings teen immigrante in dele van die land. Hy het die fasiliteit beskryf as ‘n plek waar mense op ‘n menswaardige wyse kan wag voordat hulle die grens oorsteek.
Hoewel hy beklemtoon het dat hy nie die woordvoerder van die interministeriële komitee oor migrasie is nie – dié komitee staan onder leiding van die minister van Justisie, Mmamoloko Kubayi – het Macpherson gesê die gebrek aan ‘n doeltreffende grensheining moet dringend aangespreek word.
Hy het gesê die Departement van Verdediging en Militêre Veterane is verantwoordelik vir die grensheining, maar dat sy departement bereid is om enige plan te ondersteun wat daarop gemik is om die grens beter te beveilig.
Die swak toestand van die Beitbrug-grensheining is nie nuut nie. Die grensheining is vroeër as ‘n “wasgoedlyn” beskryf omdat dit maklik beskadig en oopgebreek kon word.
In 2020 het die grensheining landwyd opslae gemaak nadat sowat R40 miljoen onregmatig aan die versterking daarvan gedurende die Covid-19-pandemie bestee is. President Cyril Ramaphosa het later die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) opdrag gegee om die aangeleentheid te ondersoek.
Die SOE het uiteindelik bevind dat daar onreëlmatighede in die verkrygingsproses was, waarna die Spesiale Tribunaal die betrokke kontrakte in 2022 ongeldig verklaar het. Pogings deur die betrokke maatskappye om dié beslissing tersyde te laat stel, was onsuksesvol. In Mei vanjaar het die Grondwetlike Hof ook hul aansoeke om verlof tot appèl van die hand gewys.
Macpherson het gesê die sogenaamde “wasgoedlyn” is vandag bloot “‘n bol metaal” wat langs die grens lê.